1 Toe koning Hiskia die boodskap hoor, het hy ook van ontsteltenis sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en tempel toe gegaan.
2 Daarop stuur hy toe vir Eljakim, Sebna en die leiers van die priesters na die profeet Jesaja, Amos se seun. Die hele afvaardiging het rouklere aangehad.
3 Hulle het vir Jesaja gesê: “Hier is die koning se boodskap: ‘Vandag is hier net moeilikheid. Ons is beledig en verneder. Die situasie is so kritiek soos dié van ’n vrou wat in kraam is, maar wat nie krag het vir die geboorte nie.
4 Miskien sal die Here, u God, reageer op die neerhalende boodskap wat Assirië se koning deur sy hoofgesant vir ons gestuur het. Hy het die Here self beledig. Miskien sal die Here, u God, hulle straf vir hulle verwaandheid. Maar u moet asseblief bid vir ons klein klompie wat nog oorgebly het.’”
5 Hiskia se amptenare het die boodskap vir Jesaja gegee.