14 En julle het ingestem.
15 Ek het toe mos hierdie verstandige en ervare mense as stamleiers aangestel. Hulle moes julle met die administrasie en die organisasie van die stamme help. Sommige het ek oor 1 000 mense, ander oor 100, 50 of tien mense aangestel. Vir elke stam was daar ook ’n sekretaris.
16 “Destyds het ek vir die regters gesê om altyd fyn na elkeen se saak te luister. Al was dit maar net ’n saak tussen ’n man en sy broer of die vreemdeling wat by hom woon, moes die regters regverdig oordeel.
17 Hulle moes altyd onpartydig wees. Klein en groot moes billik verhoor word. Regters moes vir niemand bang wees nie, want die Here was by hulle. En as daar moeilike sake was, moes hulle dit na my toe bring.
18 “In daardie tyd toe ons nog by Horeb was, het ek julle ook nog ander voorskrifte gegee waarvolgens julle moes lewe.”
19 “Die Here het toe gesê ons moet van Horeb af weggaan. Ons het toe ons goed gevat en deur die groot en verskriklike woestyn na die land Kanaän getrek. En so het ons by Kades-Barnea aangekom.
20 Daar het ek vir julle gesê dat ons by die berge van die Amoriete in Kanaän aangekom het en dat die Here ons God dit aan ons wil gee.