17 Hulle moes altyd onpartydig wees. Klein en groot moes billik verhoor word. Regters moes vir niemand bang wees nie, want die Here was by hulle. En as daar moeilike sake was, moes hulle dit na my toe bring.
18 “In daardie tyd toe ons nog by Horeb was, het ek julle ook nog ander voorskrifte gegee waarvolgens julle moes lewe.”
19 “Die Here het toe gesê ons moet van Horeb af weggaan. Ons het toe ons goed gevat en deur die groot en verskriklike woestyn na die land Kanaän getrek. En so het ons by Kades-Barnea aangekom.
20 Daar het ek vir julle gesê dat ons by die berge van die Amoriete in Kanaän aangekom het en dat die Here ons God dit aan ons wil gee.
21 ‘Kyk,’ het ek gesê, ‘die Here julle God het hierdie land aan julle gegee. Trek in en vat dit vir julle. Dit is wat die Here, die God van julle voorvaders, wil hê julle moet doen. En moenie bang wees nie. Trek net in.’
22 “Julle het egter na my toe gekom en gesê ons moet eers mense instuur om die land te gaan verken. Hulle moes ons van die roetes vertel en van die stede wat ons langs die pad gaan kry.
23 Dit het vir my goed geklink en ek het twaalf mense, een uit elke stam, gekies om die land te gaan verken.