1 Toe het Moses die Israeliete voorspoed toegebid. Net voor sy dood het hy vir hulle gesê:
2 “Die Here het uit die Sinaiwoestyn gekom en Hom aan ons bekendgemaak. Van die Seïrberge af het ons Hom sien nader kom. Toe Hy by Paranberg verbygaan, het ons die vuur in sy regterhand sien brand. Hy het gekom met tien duisende van die mense wat Hom dien.
3 “U het gekom, Here, omdat U u volk liefhet. U hou die mense in u eie hand vas wat U vir Uself eenkant gesit het om U te dien. U beskerm hulle. Hierdie mense loop oral agter U aan. Hulle doen wat U vir hulle sê.
4 Wat U ons beveel, is die kosbaarste besitting wat u volk op aarde het.
5 Die Here het ons Regeerder geword. Israel is vir Hom baie spesiaal. Al die leiers van die volk het toe bymekaargekom, saam met al die stamme van Israel. En hulle het die Here tot hulle koning verklaar.”
6 Moses het toe met die stam van Ruben gepraat: “Laat die stam van Ruben lewe en nie uitsterf nie, al is dit ’n klein stam.”
7 Moses het toe vir die stam van Juda gesê: “Here, hoor as Juda tot U roep in hulle nood en bring hulle terug sodat hulle deel van u volk sal wees. Maak hulle sterk sodat hulle hulle vyande sal oorwin.”