14 Mag Hy hulle ryk maak met goeie oeste. Mag Josef elke maand genoeg kry om te eet.
15 Mag hy rekordoeste teen die berge se hange hê, en mag die heuwels se skatte hom ryk maak.
16 Mag die Here vir hom die beste gee wat uit die aarde kom. Mag die Here hom voorspoedig maak, die Here wat Hom daar in die doringbos aan Moses bekendgemaak het. Mag dit alles met Josef gebeur. Mag hy die regeerder oor Israel, sy broers, wees.
17 Josef is so sterk soos ’n jong bul. Hy loop trots rond, want hy is so sterk soos ’n buffel. Hy sal vreemde nasies wegjaag, en hulle sal vlug tot aan die eindes van die aarde. Dit is my wens vir die twee stamme van Josef, vir Efraim en Manasse.”
18 Oor die stamme van Sebulon en Issaskar het Moses gesê: “Mag die mense van Sebulon voorspoedig wees as hulle buite die grense van hulle land rondtrek. En mag die mense van Issaskar voorspoedig wees as hulle by die huis is.
19 Hierdie twee stamme nooi die mense om saam met hulle na die berg toe te gaan sodat hulle daar offers vir die Here kan bring. Die Here het bepaal watter offers ’n mens moet bring. Hulle bly langs die see, en die see maak hulle ryk, want daar is baie kosbare skatte in die see.”
20 Moses het oor die stam van Gad gesê: “Mag die Here die een wat Gad se grense verder skuif, voorspoedig maak! Gad sit reg soos ’n leeu net voor hy spring. Sy prooi is die sterk mense, die leiers van ander nasies.