Deuteronomium 33:18-24 DB

18 Oor die stamme van Sebulon en Issaskar het Moses gesê: “Mag die mense van Sebulon voorspoedig wees as hulle buite die grense van hulle land rondtrek. En mag die mense van Issaskar voorspoedig wees as hulle by die huis is.

19 Hierdie twee stamme nooi die mense om saam met hulle na die berg toe te gaan sodat hulle daar offers vir die Here kan bring. Die Here het bepaal watter offers ’n mens moet bring. Hulle bly langs die see, en die see maak hulle ryk, want daar is baie kosbare skatte in die see.”

20 Moses het oor die stam van Gad gesê: “Mag die Here die een wat Gad se grense verder skuif, voorspoedig maak! Gad sit reg soos ’n leeu net voor hy spring. Sy prooi is die sterk mense, die leiers van ander nasies.

21 Die mense van Gad het die beste deel van die land vir hulleself uitgekies. Een van die beste dele van die land is vir hom gegee. Toe die leiers van die volk bymekaargekom het, was dit Gad wat gedoen het wat die Here van hom vra. Hy het reg gedoen.”

22 Oor die stam van Dan het Moses die volgende kwytgeraak: “Dan is die welpie van ’n leeu. Hou hom dop. Hy gaan skielik uit sy woonplek, uit Basan uit sy prooi bespring.”

23 Oor Naftali se stam het Moses gesê: “Naftali, jy geniet die allerbeste. Die Here het jou ryk gemaak. Jy is baie voorspoedig. Mag jou grense nog verder verskuif, mag jou land groter word na die westekant en die suidekant toe.”

24 Moses het oor die stam van Aser gesê: “Mag Aser voorspoediger wees as sy broers, die ander seuns van Jakob. Hy is die gunstelingseun van sy pa. Mag dit met hom goed gaan. Mag hy baie ryk word uit die olie wat in sy land voorkom.