1 Jefta, ’n inwoner van Gilead, was ’n dapper soldaat. Hy was die seun van Gilead by ’n prostituut.
2 Gilead het nog ander seuns ook gehad by sy eie vrou. Toe hulle grootgeword het, het hulle hulle halfbroer, Jefta, weggejaag. “Jy mag niks van ons pa erf nie,” het hulle vir hom gesê, “want jy is ’n ander vrou se kind!”
3 Jefta het toe van sy broers af padgegee en in Tob gaan woon. Dit was nie te lank voordat ’n groot klomp nikswerd leeglêers by hom aangesluit en oral saam met hom gegaan het nie.
4 ’n Ruk later het die Ammoniete besluit om teen die Israeliete te kom oorlog maak.
5 Toe het die leiers van Gilead mense na Tob toe gestuur om vir Jefta te vra om hulle te kom help.
6 Hulle het hom laat weet: “Ons wil hê jy moet ons leier wees sodat ons teen die Ammoniete kan veg.”
7 Jefta se antwoord was: “Julle het my so gehaat dat julle my gedwing het om my eie pa se huis te verlaat. Hoekom hardloop julle nou skielik na my toe as julle in die moeilikheid is?”
8 “Omdat ons jou nodig het om saam met ons teen die Ammoniete te veg,” het hulle vir Jefta gesê. “Ons wil hê jy moet die leier van ons almal in Gilead wees.”
9 Toe sê Jefta vir hulle: “So, dit beteken dat as ek saam met julle kom en die Here vir my die oorwinning oor die Ammoniete gee, dan word ek julle leier?”
10 “Die Here is ons getuie,” het hulle gesê, “ons aanvaar dit, ons sal doen wat jy vra.”
11 Jefta is toe saam met die leiers van Gilead daar weg. Hy het hulle leier en die aanvoerder van hulle leër geword. In Mispa het Jefta in die teenwoordigheid van die Here alles vir die mense herhaal wat die leiers vir hom gesê het.
12 Jefta het toe boodskappers na die koning van Ammon toe gestuur om vir hom te vra: “Wat is jou probleem met ons? Waarom is jy besig om ons land binne te val?”
13 Die koning van Ammon se antwoord was: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land by my gevat, die hele gebied van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van daar af die hele ent tot by die Jordaanrivier. Al wat ek vra, is dat julle my land in vrede teruggee.”
14 Jefta het sy boodskappers met die volgende antwoord teruggestuur:
15 “Ek wat Jefta is, sê vir jou jy praat nie die waarheid nie. Israel het nie Moab of Ammon se grond gesteel nie.
16 Ek sal jou vertel wat gebeur het. Toe Israel uit Egipte weg is, het hulle deur die woestyn tot by die Rietsee getrek en van daar af verder tot hulle by Kades aangekom het.
17 Van daar af het hulle boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en toestemming gevra om deur sy land te trek, maar hy wou dit nie toelaat nie. Hulle het presies dieselfde ding vir die koning van Moab gevra, maar hy wou ook niks daarvan weet nie. Daarom het die Israeliete in Kades gebly.
18 Uiteindelik het hulle deur die woestyn, óm die gebiede van Edom en Moab getrek. Hulle het aan die oostekant van Moab kamp opgeslaan aan die oorkant van die Arnonrivier. Maar hulle het nooit oor die Arnonrivier in Moab se gebied ingegaan nie.
19 Van daar af het Israel boodskappers na koning Sihon van die Amoriete toe gestuur. Hy het in Gesbon gewoon. Hulle het hom gevra om hulle toe te laat om deur sy gebied na hulle land toe te trek,
20 maar Sihon het hulle nie genoeg vertrou om hulle deur sy gebied te laat trek nie. Trouens, hy het sy weermag by Jahas bymekaar laat kom en teen Israel begin veg.
21 Maar die Here, die God van Israel, het vir sy volk die oorwinning gegee en hulle het die hele gebied van die Amoriete vir hulleself ingeneem,
22 van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier.
23 “Jy sien, dit was die Here, die God van Israel, wat die Amoriete se land vir Israel gegee het.
24 Gaan jy dit nou probeer terugvat? Jy kan hou wat jou god Kemos vir jou gegee het. Maar ons hou alles wat die Here ons God vir ons gegee het.
25 Of dink jy dalk jy is beter as Sippor se seun Balak, die koning van Moab? En tog het hy Israel nooit aangevat oor grond of teen ons probeer oorlog maak nie.
26 Nou wil jy na 300 jaar die saak aanroer! Intussen bly Israel van toe af al in Gesbon en sy omringende dorpe en net so ook in Aroër met sy omringende dorpe en in die dorpe op die walle van die Arnonrivier. Waar kom jy nou skielik vandaan?
27 Ek het niks aan jou gedoen nie. Maar die feit dat jy nou teen my kom oorlog maak, is verkeerd. Laat die Here wat regter is, besluit wie is reg: Israel of Ammon.”
28 Die koning van Ammon het hom egter nie aan Jefta gesteur nie.
29 Toe het die Gees van die Here oor Jefta gekom en hy het deur die gebiede van Gilead en Manasse getrek, verby tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy sy weermag teen die Ammoniete uitgelei.
30 Jefta het ’n plegtige belofte aan die Here gemaak en gesê: “As U vandag vir my ’n oorwinning oor die Ammoniete gee,
31 sal ek die eerste persoon wat my uit my huis tegemoetkom ná my oorwinning oor die Ammoniete as ’n brandoffer aan U offer.”
32 Jefta het die rivier oorgesteek om teen die Ammoniete te veg. Die Here het hom laat wen.
33 Hy het hulle verslaan van Aroër af tot by ’n gebied naby Minnit; twintig stede altesaam. Ook by Abel-Keramim was daar ’n groot geveg totdat die Israeliete uiteindelik die Ammoniete totaal verslaan het.
34 Toe Jefta by sy huis in Mispa aankom, het sy dogter, sy enigste kind, hom al dansende tegemoetgekom terwyl sy op die tamboeryn speel.
35 Toe hy haar sien, het hy van angs sy klere van sy lyf afgeskeur. “Ag, my dogter!” het hy gekerm. “Jy breek my hart! Hoekom moet dit juis jy wees wat my hierdie smart veroorsaak? Ek het ’n gelofte aan die Here gemaak en ek kan nie nou op my woord teruggaan nie.”
36 Sy sê toe vir hom: “As Pa Pa se woord vir die Here gegee het, moet Pa doen wat Pa belowe het, want die Here het Pa gehelp om Pa se vyande, die Ammoniete, te verslaan.
37 Maar bewys my net een guns,” het sy gevra. “Laat my toe om twee maande lank berge toe te gaan om daar saam met my vriendinne te gaan treur dat ek as ’n maagd gaan sterf.”
38 “Gaan gerus,” het hy gesê. Sy en haar vriendinne is toe daar weg berge toe om te gaan treur oor die feit dat sy ongetroud en kinderloos sou sterf.
39 Na twee maande het sy teruggekom na haar pa toe en hy het sy gelofte teenoor die Here nagekom. Sy het as ’n maagd gesterf.
40 So het die gebruik in Israel ontstaan dat jong Israelitiese meisies elke jaar vier dae lank gaan treur oor Jefta die man van Gilead se dogter.