1 Die Here het ’n klomp nasies in die land laat bly om die Israeliete wat nie teen die Kanaäniete geveg het nie te toets.
2 Op hierdie manier wou die Here die Israeliete wat niks van oorlog geweet het nie, leer hoe om te veg.
3 Hierdie volke is die Filistyne, met hulle vyf leiers, asook al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat in die berge van Libanon gebly het, vanaf die berg Baäl-Hermon tot by Lebo-Hamat.
4 Hulle is met rus gelaat om te sien of die Israeliete die Here se bevele wat Hy deur Moses aan hulle voorouers gegee het, sou gehoorsaam.
5 So het dit gebeur dat die Israeliete tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete gebly het.
6 Later het daar ondertrouery tussen die Israeliete en hierdie nasies plaasgevind. Toe het die Israeliete hierdie nasies se gode begin dien.
7 Die Israeliete het dinge gedoen waarvan die Here niks gehou het nie. Hulle het die Here hulle God vergeet en die afgodsbeelde van Baäl en die heilige pale van Asjera aanbid.
8 Hieroor was die Here kwaad vir Israel. Daarom het Hy hulle agt jaar lank in koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië se mag oorgegee.
9 Toe die Israeliete by die Here hulp gaan soek het, het Hy iemand gestuur om hulle te help. Dit was Otniël. Hy was Kaleb se jonger broer Kenas se seun.
10 Die Gees van die Here het van hom besit geneem en hy het Israel se leier geword. Hy het teen koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië oorlog gemaak en hom met die hulp van die Here verslaan.
11 Daarna was daar 40 jaar lank vrede in die land, en toe is Otniël seun van Kenas dood.
12 Die Israeliete het later weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Toe het die Here hulle in koning Eglon van Moab se mag oorgegee.
13 Eglon het kragte saamgesnoer met die Ammoniete en die Amalekiete en saam het hulle Israel verslaan en Jerigo ingeneem.
14 Die Israeliete was toe agtien jaar lank die onderdane van koning Eglon van Moab.
15 Toe die Israeliete by die Here hulp gaan soek het, het Hy iemand gestuur om hulle te help. Dit was Ehud seun van Gera uit die stam van Benjamin. Ehud was linkshandig. Die Israeliete het hom met die belastinggeld na koning Eglon van Moab toe gestuur.
16 Ehud het vir hom ’n swaard van 50 sentimeter lank gemaak en al twee kante van die swaard vlymskerp gemaak. Hy het die swaard aan sy regterkant onder sy klere vasgemaak.
17 Toe het hy die belastinggeld vir koning Eglon, wat ’n baie vet man was, gevat.
18 Nadat Ehud die belastinggeld aan die koning oorhandig het, het hy die mense wat dit gedra het, teruggestuur huis toe.
19 Hy het by die klipbeelde naby Gilgal omgedraai. Toe is hy terug na koning Eglon toe. Ehud sê toe vir hom: “U Majesteit, ek het ’n geheime boodskap net vir u!”Hierop het die koning vir sy amptenare gesê: “Stilte. Ons wil alleen wees!” en hulle is toe daar uit.
20 Ehud het toe nader aan die koning gestap waar hy alleen in sy koel bovertrek gesit het, en vir hom gesê: “Ek het ’n boodskap van God af vir u.” Die koning het dadelik van sy troon af opgestaan
21 en Ehud het met sy linkerhand die swaard, wat hy aan sy regterkant onder sy klere weggesteek het, uitgetrek en Eglon in sy maag gesteek.
22 Die hele swaard, hef en al, het in die koning se maag ingegaan sodat die vet daaroor gepeul het. Die swaard het vasgesit en Ehud het dit net so in die koning gelos.
23 Hy het die deure van die bovertrek toegemaak en gesluit. Daarna is hy met ’n ander uitgang daar uit.
24 Na ’n ruk het Eglon se amptenare teruggekom. Toe hulle voel die deure is gesluit, het hulle gedink die koning is in die badkamer.
25 Hulle het geduldig gewag, maar toe die koning te lank na hulle sin vat, het hulle bekommerd geraak, ’n sleutel gaan haal en die deur oopgesluit, net om die koning dood op die vloer aan te tref.
26 Intussen het Ehud ontsnap. Hy is verby die klipbeelde op pad Seïra toe.
27 Met sy aankoms in die bergagtige gebied van Efraim het hy die trompet laat blaas om die soldate bymekaar te maak vir oorlog. Die Israeliete het na hom toe gekom, en hy was hulle leier.
28 “Kom saam met my,” het hy vir hulle gesê, “want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.” Hulle is toe saam met Ehud daar weg. Hulle het al die vlak dele van die Jordaanrivier toegemaak sodat niemand van Moab af daar kon deurkom nie.
29 Hulle het toe die Moabiete aangeval en omtrent 10 000 van hulle beste troepe doodgemaak. Hulle het niemand laat wegkom nie.
30 Israel het Moab daardie dag onderwerp. Daarna was daar 80 jaar lank vrede in die land.
31 Na Ehud het Anat se seun Samgar Israel van die Filistyne gered deur 600 van hulle met ’n sweep dood te slaan.