9 Toe hy en sy byvrou en sy dienaar later die middag gereedmaak om terug te gaan, sê sy skoonpa vir hom: “Kyk, dis al amper donker, jy kan maar net sowel nog ’n nag hier oorbly. Slaap hier oor en die geniet die aand saam met ons. Julle kan môre vroeg opstaan en teruggaan huis toe.”
10 Hierdie keer was die Leviet vasberade om terug te gaan. Daarom het hulle klaargemaak en vertrek: hy, sy byvrou, sy dienaar en die donkies. Dit was al baie laat toe hulle in die omgewing van Jebus, dit is nou Jerusalem, aankom.
11 Die dienaar sê toe: “Dit word nou te donker om verder te reis. Kom ons bly die nag in Jebus oor.”
12-13 Maar die Leviet het geweier en gesê: “Ons kan nie in ’n vreemde stad bly waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan nog ’n ent verder. Miskien kan ons plek kry in Gibea of Rama.”
14 Hulle het toe verder gereis en teen sononder by Gibea, ’n dorp in die gebied van Benjamin, aangekom.
15 Hulle het afgedraai daarheen om daar te oornag. Hulle het op die stadsplein gaan sit om te rus met die hoop om slaapplek te kry vir die nag, maar niemand het hulle slaapplek aangebied nie.
16 Later die aand, terwyl hulle nog daar gesit het, het ’n ou man van sy werk op die lande af teruggekom. Hy was afkomstig van die bergagtige gebied van Efraim, maar het nou in Gibea onder die mense van die stam van Benjamin kom bly.