21 Benjamin se soldate het egter by die stad uitgestorm en voor die einde van die dag het hulle 22 000 Israelitiese soldate doodgemaak.
22-23 Die Israeliete het toe teruggegaan Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand. Toe vra hulle vir die Here: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak?”“Ja, gaan veg teen hulle,” het die Here geantwoord. Hierdie antwoord het hulle weer moed laat skep en hulle is terug stad toe, waar hulle weer die soldate in dieselfde posisies as die vorige dag ontplooi het.
24 So het hulle die volgende dag weer gereedgemaak vir die geveg,
25 en net soos die vorige dag het Benjamin se soldate by die stad uitgestorm. Hierdie keer het hulle 18 000 opgeleide soldate van Israel doodgemaak.
26 Die hele Israelitiese leër is toe terug Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand, sonder om iets te eet. Hulle het ook brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring.
27-28 Destyds was die verbondsark van die Here nog by hulle. Hulle het toe deur die priester Pineas (hy was Eleasar se seun en die kleinseun van Aäron) vir die Here gevra: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak, of moet ons ophou?”Die Here se antwoord was: “Gaan, môre gee Ek hulle in julle mag oor.”
29 Die Israeliete het toe hinderlae rondom Gibea opgestel.