35 Die Here het Israel gehelp om Benjamin te verslaan. Hulle het op daardie dag 25 100 van Benjamin se dapperste soldate doodgemaak.
36 Benjamin se leër het geweet dat hulle verslaan is. Hulle het besef dat die hoofgroep van die Israelitiese leër net teruggeval het om die soldate wat in die hinderlaag rondom Gibea gelê het, meer kans te gee om in posisie te kom.
37 Die soldate wat in die hinderlae gelê het, het vinnig opgespring, die stad oorrompel en al die inwoners van Gibea doodgemaak.
38 Die twee groepe Israelitiese soldate het ’n teken met mekaar afgespreek.
39 Sodra die hoofgroep ’n rookwolk uit die stad uit sien opgaan, moet hulle omdraai. Teen dié tyd het die Benjaminiete wat hulle agtervolg het, reeds die 30 Israeliete doodgemaak en het hulle nog vir mekaar geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!”
40 Net toe het die rookwolk uit die stad uit opgestyg. Toe die Benjaminiete omkyk, was hulle verstom om te sien dat die hele stad aan die brand is.
41 Die Israelitiese soldate het toe omgespring en hulle begin aanval. Dis toe dat die Benjaminiete vreesbevange geraak het, want hulle het besef dat ’n groot ramp hulle getref het.