19 Toe sê hulle: “Daar is mos jaarliks ’n fees in Silo tot eer van die Here.” Silo is noord van Bet-El af na Sigem se kant toe en suid van Lebona.
20 Die leiers sê toe vir die Benjaminiete: “Gaan kruip in die wingerde weg
21 en wag. As julle die meisies van Silo sien uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen vir julle ’n vrou gryp. Vat hulle dan saam met julle terug na die gebied van Benjamin toe.
22 As die pa’s en broers by ons kom kla, sal ons vir hulle sê: ‘Probeer tog verstaan, ons kon nie genoeg vroue vir hulle kry toe ons Jabes verwoes het nie. Julle is nie skuldig daaraan dat julle die belofte aan God verbreek het nie, want julle het nie julle dogters vrywillig vir hulle gegee om mee te trou nie.’”
23 Die Benjaminiete het dit toe gedoen. Hulle het die vroue wat aan die feesvierings deelgeneem het, ontvoer en saam met hulle teruggevat na hulle eie grondgebied toe. Hulle het hulle stede herbou en daarin gaan bly.
24 Terselfdertyd is die res van die stamme van Israel ook daar weg, elkeen na hulle eie stam, familie en grondgebied toe.
25 In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie en almal het gedoen net wat hulle wou.