10 Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag glad nie die gode van die Amoriete in wie se land julle bly, aanbid nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.”
11 Daarna het die Engel van die Here onder die eikeboom in Ofra gaan sit wat aan Joas die Abiësriet behoort het. Sy seun Gideon was besig om koring in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie.
12 Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”
13 Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.”
14 Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!”
15 “Ekskuus, Meneer,” sê Gideon, “maar waarmee moet ek die Israeliete red? My familie is die armste in die stam van Manasse en in my eie gesin is ek nie juis belangrik nie.”
16 Toe sê die Here: “Jy kan hulle red, want Ek gaan jou help. Jy sal die Midianiete so maklik verslaan asof dit net een mens is teen wie jy baklei.”