20 Gideon sê toe vir sy oudste seun, Jeter: “Kom maak hulle dood!” Maar hy het nie ’n vinger verroer om sy swaard uit te trek nie. Hy was te bang, want hy was nog ’n bloedjong kind.
21 Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Maak jy ons self dood. Moenie ’n kind vra om ’n man se werk te doen nie.” Gideon het toe hulle albei self doodgemaak. Hy het hulle kamele se versierings vir homself gevat.
22 Daarna het die Israeliete vir Gideon gesê: “Jy en jou seun en die res van jou familie moet ons leiers wees, want jy het ons van die Midianiete verlos.”
23 Maar Gideon het gesê: “Nie ek of my nageslag kan oor julle regeer nie, net die Here regeer oor julle!
24 Maar ek het wel ’n ander versoek. Elkeen van julle moet vir my een van die goue oorringe gee wat ons by die Midianiete afgevat het.” Die Midianiete het graag goue oorringe gedra.
25 “Dit sal ons vir jou doen,” het die volk gesê. Hulle het ’n doek op die grond oopgesprei en elkeen het ’n goue oorring daarop gegooi.
26 Die goue oorringe wat Gideon bymekaargemaak het, het ongeveer twintig kilogram geweeg. Dit het nie eens die ornamente, oorbelle en pers koninklike klere ingesluit nie, en ook nie die kettings wat om die kamele se nekke was nie.