21 Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Maak jy ons self dood. Moenie ’n kind vra om ’n man se werk te doen nie.” Gideon het toe hulle albei self doodgemaak. Hy het hulle kamele se versierings vir homself gevat.
22 Daarna het die Israeliete vir Gideon gesê: “Jy en jou seun en die res van jou familie moet ons leiers wees, want jy het ons van die Midianiete verlos.”
23 Maar Gideon het gesê: “Nie ek of my nageslag kan oor julle regeer nie, net die Here regeer oor julle!
24 Maar ek het wel ’n ander versoek. Elkeen van julle moet vir my een van die goue oorringe gee wat ons by die Midianiete afgevat het.” Die Midianiete het graag goue oorringe gedra.
25 “Dit sal ons vir jou doen,” het die volk gesê. Hulle het ’n doek op die grond oopgesprei en elkeen het ’n goue oorring daarop gegooi.
26 Die goue oorringe wat Gideon bymekaargemaak het, het ongeveer twintig kilogram geweeg. Dit het nie eens die ornamente, oorbelle en pers koninklike klere ingesluit nie, en ook nie die kettings wat om die kamele se nekke was nie.
27 Gideon het toe ’n afgodsbeeld van die goud gemaak en dit in sy tuisdorp, Ofra, gesit. Dit was nie lank nie of die Israeliete het hulle rug vir God gedraai en hierdie afgod begin aanbid. Hierdie beeld het Gideon en sy familie verlei om weg te dwaal van die Here af.