9 Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Na my oorwinning kom ek terug en dan kom breek ek die wagtoring van julle stad tot op die grond af.”
10 Teen dié tyd was Sebag en Salmunna al in Karkor. Saam met hulle was ’n leër van ongeveer 15 000 soldate. Dit is al soldate wat oorgebly het van die hele weermag van die mense van die ooste, want 120 000 van hulle beste soldate was reeds dood.
11 Gideon het met die karavaanroete ooswaarts gegaan tot by Nobag en Jogboha, waar hy die Midianitiese leër onverhoeds betrap het.
12 Sebag en Salmunna het probeer vlug, maar Gideon het hulle agternagesit en hulle gevang. Dit het die hele leër paniekbevange gemaak.
13 Op pad terug van die slagveld af het Gideon deur die pas by Geres gegaan.
14 Daar het hy ’n jong man van Sukkot gevang. Tydens ondervraging het hy hom gedwing om die name van die 77 leiers en hoofde van Sukkot vir hom neer te skryf.
15 Gideon is toe terug na die leiers van Sukkot toe. Daar aangekom, sê hy vir hulle: “Hier is Sebag en Salmunna oor wie julle my die vorige keer gespot het met die woorde: Het jy dalk al vir Sebag en Salmunna gevang dat ons vir jou moeë soldate kos moet gee?”