19 Maar as julle vandag so verskriklik eerlik is teenoor Gideon en sy familie, moet julle mos goed voel daaroor dat Abimelek julle koning is. Boonop moet hy ook bly wees daaroor.
20 Aan die ander kant, as julle nie eerlik is nie, mag dit dan gebeur dat Abimelek se leierskap soos ’n vuur sal wees wat die inwoners van Sigem en Bet-Millo sal verbrand. En mag die inwoners van Sigem en Bet-Millo deur hulle optrede vir Abimelek soos ’n vuur wees wat groot verwoesting saai.”
21 Daarna het Jotam gevlug en in Beër gaan bly, omdat hy bang was sy broer Abimelek maak hom dood.
22 Abimelek het drie jaar oor Israel regeer.
23 Toe het God spanning tussen Abimelek en die mense van Sigem laat ontstaan. Hulle het teen sy leierskap in opstand gekom.
24 Dit het gebeur sodat Abimelek en die mense van Sigem, wat hom aangemoedig het om Gideon se 70 seuns dood te maak, die gevolge van hulle verskriklike dade sou dra.
25 Die mense van Sigem het toe ’n hinderlaag teen Abimelek op die bergtoppe opgestel. Hulle het almal beroof wat daar verbygekom het. Maar iemand het vir Abimelek daarvan vertel.