3 Abimelek se familie het toe met sy voorstel na die inwoners van Sigem toe gegaan. Hulle het besluit om hom te volg aangesien hy, soos hulle gesê het, “een van ons is”.
4 Hulle het vir hom ongeveer een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Hy het dit gebruik om vir hom ’n klomp leeglêers te huur om sy volgelinge te wees.
5 Hy is toe saam met hulle daar weg na sy pa se huis toe in Ofra. Daar het hy al 70 sy broers, almal Gideon se seuns, op een klip doodgemaak. Die enigste een wat oorgebly het, was Jotam, Gideon se jongste seun, want hy het weggekruip.
6 Toe het al die inwoners van Sigem en Bet-Millo bymekaargekom by die groot eikeboom langs die klippilaar wat hulle aanbid het. Daar het hulle toe vir Abimelek as koning gekroon.
7 Toe Jotam hiervan te hore kom, het hy op die berg Gerisim geklim en hard vir hulle geskree: “Luister na my, mense van Sigem, dan sal God dalk na julle luister!
8 Op ’n keer het die bome bymekaargekom om vir hulle ’n koning te kies. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Wees jy ons koning!’
9 Maar die olyfboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou olyfolie produseer, waarmee eer betoon word aan beide gode en mense, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’