37 Maar Gaäl het weer vir hom gesê: “Kyk mooi, daar kom mense van die heuwels af. En daar van die waarsêersboom se kant af is nog ’n groep aan die kom.”
38 Toe sê Sebul ewe leedvermakerig vir hom: “Nou waar is jou groot mond dan nou? Jy is mos die een wat gesê het: ‘Wie is Abimelek dat ons sy onderdane moet wees?’ Wel, is dit nie dalk die mense van wie jy so met minagting gepraat het nie? Hier is jou kans, vat nou jou soldate en gaan veg teen hulle.”
39 Gaäl het toe die mense van Sigem gevat om teen Abimelek te gaan veg.
40 Maar Abimelek het hom verslaan en hy moes vlug. Baie mense het daardie dag hulle lewe verloor. Die dooies het tot by die stad se hekke gelê.
41 Abimelek het in Aruma gebly en Sebul het vir Gaäl en sy familie uit Sigem weggejaag en hulle nie langer toegelaat om daar te bly nie.
42 Die volgende dag het Abimelek te hore gekom dat die mense van Sigem beplan het om teen hom te gaan oorlog maak.
43 Hy het toe sy troepe gevat, hulle in drie groepe verdeel en ’n hinderlaag vir die mense van Sigem daar in die veld gelê. Toe Abimelek die soldate uit die stad uit sien kom, het hy en sy soldate uit hulle wegkruipplekke opgespring en hulle aangeval en doodgemaak.