2 Die Here het vir die mense van Juda gesê: “Ek is baie kwaad vir julle voorouers!
3 Ek is die Here en Ek het mag oor alles en almal. Ek sê: Kom terug na My toe en dien My weer. Julle kan weer my volk wees.
4 Moenie soos julle voorouers maak nie. My profete het vroeër vir hulle gesê dat hulle moet ophou om so verkeerd te lewe en slegte dinge te doen. Maar hulle het nie geluister nie en op hulle eie manier aangegaan.
5 Julle voorouers en daardie profete is lankal dood.
6 Maar my profete het die waarheid gepraat. Alles wat hulle vir julle voorouers gesê het, het toe net so gebeur.” Hulle het toe besef dat die Here nie leuens vertel nie. Wat Hy besluit het om met hulle te doen het gebeur. Hulle moes saamstem: hulle het gekry wat hulle verdien het. Hulle het die verkeerde dinge gedoen.
7 Op vyftien Februarie, in die tweede jaar wat Darius koning was, wou die Here weer hê dat Sagaria iets vir sy volk moes gaan sê.
8 Sagaria het vertel wat gebeur het: Een nag het ek ’n droom gesien van ’n man wat op ’n bruin perd sit. Hy het tussen bome in ’n kloof gestaan. Agter hom was ook nog ’n rooi perd, ’n bruine en ’n witte.