1 Libanon, maak jou grense oop sodat vreemde mense kan inkom en jou grond kom verniel. Hulle sal soos ’n vuur wees wat die seders verbrand tot net die as oorbly.
2 Huil, sipresbome, want baie van die sederbome het in die slag gebly. Die mooiste en beste bome is vernietig. Huil, akkerbome van Basan, want net stompe het in die digte bos oorgebly.
3 Hoor hoe huil die leiers. Alles waarop hulle so trots was, is daarmee heen. Hoor hoe brul die leeus. Die bosse langs die Jordaan waar hulle altyd kon wegkruip, is nou verwoes.
4 Die Here, wat die God is wat ek aanbid, het vir my gesê: “Pas hierdie volk op soos ’n herder sy skape oppas. Wat met hierdie skape gaan gebeur, is erg; hulle is op pad slagpale toe om geslag te word.
5 Die mense wat hierdie skape koop, voel nie eers ’n tikkie sleg om hulle te slag nie. As hulle die skape nie slag nie, verkoop hulle hulle en sê: ‘Prys die Here, nou is ons ryk.’ Die herders gee ook niks vir die skape om nie.”
6 Die Here sê: “Ek gee ook nie meer om vir die mense wat in die land bly nie. Ek gaan mense met mekaar laat maak nes hulle wil. Ek gaan hulle ook aan die koning oorgee om met hulle te maak net soos hy lus het. Hierdie leiers sal die land verwoes, maar Ek is nie van plan om enigiemand te beskerm nie.”
7 Ek het die mense begin oppas en versorg net soos ’n herder die vee van die veehandelaars sou oppas. Hierdie vee was bedoel om geslag te word. Vir dié takie het ek vir my twee kieries in die hande gekry waarmee ’n mens skape oppas. Ek het die een kierie Vriendelikheid genoem en die ander een Saamwees.
8 Sommer in die eerste maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar nie lank nie of ek het begin moeg raak vir die mense wat ek versorg. Maar hulle het ook nie veel ooghare vir my gehad nie; om die waarheid te sê, hulle het my gehaat.
9 Ek het toe vir hulle gesê: “Ek stel nie langer daarin belang om julle oppasser te wees nie. As julle doodgaan, is dit nou maar daarnatoe. En as julle wegraak, is dit nou maar julle lot. In elk geval sal die mense wat oorbly, mekaar uitroei.”
10 Ek het toe my kierie met die naam Vriendelikheid gevat en dit middeldeur gebreek. Ek het dit gedoen om vir hulle te wys dat ek die ooreenkoms wat ek met die volke gemaak het, nie langer gaan hou nie.
11 Op dié manier is die ooreenkoms met hulle daarmee heen en verbreek. Die veehandelaars het alles so gekyk en besef dit is eintlik die Here self wat deur alles wat gebeur het, met hulle praat.
12 Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dink ek is dit werd, gee my my betaling vir die werk wat ek gedoen het. As julle nie wil nie, los dit dan.” Hulle het my toe 30 silwermuntstukke betaal.
13 Die Here het vir my gesê: “Gooi die geld in die geldhouer van die tempel.” Die sommetjie geld was al wat hulle gedink het ek werd is. Ek het die 30 silwermunte gevat en dit in die geldhouer van die tempel van die Here gegooi.
14 Daarna het ek die ander kierie met die naam Saamwees gebreek. Van saamwees tussen Juda en Israel sou daar nie langer gepraat kon word nie, want die band tussen hulle is verbreek.
15 Toe sê die Here vir my: “Gaan speel weer die rol van ’n herder, maar hierdie keer as een wat niks werd is nie.
16 Ek gaan vir hierdie volk ’n leier gee wat nie vir hulle omgee nie. Hy sal net soos ’n slegte herder wees. Dit sal hom nie pla as sy mense wegraak nie. Hy sal ook nie die jonges soek wat afdwaal nie. Verder sal hy ook nie dié verpleeg wat seerkry nie. Hy sal ook nie sorg dat dié wat gesond is kos kry nie. Hy sal net kyk wat hy vir homself uit alles kan kry. Hy sal mense gebruik en misbruik tot sy eie voordeel.
17 Hy laat sy mense in die steek; daarom is swaarkry sy voorland. Mag ’n swaard sy arm en sy regteroog wond! Mag dit so wees dat hy nie weer sy arm kan gebruik nie en dat hy blind in sy regteroog sal wees!”