1 Op sewe Desember in die vierde jaar wat Darius koning was, het die Here weer vir Sagaria gebruik om met sy volk te praat.
2 Die mense van Bet-El het vir Sar-Eser en Regem-Melek en ’n paar van hulle vriende na die tempel toe gestuur. Hulle moes vir die Here gaan vra om te sorg dat dit met hulle goed sal gaan.
3 Hulle moes ook vir die priesters by die tempel en vir die profete gaan vra wat hulle moes doen. Hulle het gesê: “Elke jaar in die vyfde maand vas ons. Dan bly ons sonder kos en huil ons omdat Jerusalem en die tempel verwoes is. Moet ons dit steeds aanhou doen soos ons nou al vir baie jare gewoond is?”
4 Die Here het vir Sagaria gesê:
5 “Vra ’n bietjie vir die mense van Juda en die priesters wat nou al vir 70 jaar elke jaar in die vyfde en die sewende maand sonder kos bly en huil, die volgende vraag: Het julle ter wille van My sonder kos gebly?
6 Op julle feeste eet en drink julle, maar julle doen dit net vir julle eie plesier.
7 Daar is mos nou niks meer nuut om daaroor te sê nie. Dit is mos dieselfde ou boodskap wat Ek lank gelede reeds vir die profete gegee het. Dit was die tyd toe daar nog baie mense in Jerusalem en in die ander stede van Juda gebly het. Toe het dit nog baie goed met almal gegaan. Mense het selfs nog in die suide van die land en op die vlaktes gebly.”
8 Die Here het weer vir Sagaria gebruik om met die volk te praat. Sagaria het vir hulle gesê:
9 Die Here is sterker as alles en almal! Hy sê: “In hofsake moet julle eerlik en regverdig met mense wees. Wees lief vir mekaar en werk mooi met mekaar.
10 Moenie weduwees en kinders sonder ’n ma en pa sleg behandel nie. Julle moet natuurlik ook nie mense wat nie van Israel af kom nie en arm mense sleg behandel nie. Moenie planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie.”
11 Julle voorouers wou nie na die Here luister nie. Hulle het gemaak of hulle nie hoor wat die Here sê nie.
12 Hulle hart was so hard soos klip. Die Here het lank gelede al profete gebruik om sy boodskappers te wees.
13 Hy het hulle deur sy Gees laat verstaan wat hulle vir sy volk moes sê. Maar niks wat die Here gesê het, het enige indruk op hulle gemaak nie. Dit het soos water van ’n eend se rug af gerol. Dit is hoekom die Here so kwaad vir hulle is. Die Here sê: “Omdat hulle nie na My wou luister toe Ek met hulle gepraat het nie, daarom het Ek ook nie na hulle geluister toe hulle na My geroep het nie.
14 Soos ’n warrelwind goed rondwaai, het Ek hulle laat rondwaai en uitmekaar laat spat na al die nasies toe. Daar het hulle soos vreemdelinge gebly. Hulle eie land was so verwoes en sonder enige mense dat niemand eens meer daarnatoe wou kom nie. ’n Land wat eers so mooi was, het nou ’n plek geword waar niemand kan of wil bly nie.”