14 Selfs die mense van Juda sal by Jerusalem teen die vyand baklei. Die rykdom van die volke in die omgewing sal afgevat word. Op dié manier sal groot hoeveelhede goud, silwer en klere bymekaargebring word.
15 Dieselfde vreeslike siekte wat die mense oorgekom het, sal ook die perde, muile, kamele, donkies en watter ander diere daar ook al in die vyand se kampe is, besmet.
16 Wat na alles sal gebeur, is dat die vyande van Jerusalem wat nie van die siekteplaag dood is nie, elke jaar na die stad toe sal terugkom. Wanneer hulle kom, sal dit wees om eer te kom bewys aan die Koning, die Here wat sterker as almal en alles is. Hulle sal ook kom om die fees te vier waar daar altyd hutte van takke gebou word.
17 As daar enige volk êrens op aarde is wat nie na Jerusalem toe wil kom om die Here, die Koning, te kom vereer nie, sal dit nie by hulle reën nie.
18 En as die mense van Egipte nie na die fees toe wil kom nie, sal die Here hulle straf. Dieselfde vreeslike siekte sal hulle aantas wat ander nasies getref het wat geweier het om Hom te kom dien.
19 Die mense van Egipte sal saam met die ander volke gestraf word as hulle nie die fees van die hutte wil kom vier nie.
20 In dié tyd sal daar selfs op die klokkies aan die perde se tuie geskryf staan: “Spesiaal bedoel vir die Here.” Die potte wat in die tempel van die Here gebruik word om in te kook, sal net so belangrik wees as die potte wat by die offeraltaar gebruik word.