2 In dié tyd sal die Here al die nasies bymekaarmaak om oorlog teen Jerusalem te maak. Hulle sal die stad inneem en die goed in die huise steel. Erger nog, hulle sal die vroue in Jerusalem onsedelik aanrand. Hulle sal die helfte van die stad se mense uit die land wegvat. Die ander helfte sal in die stad kan bly.
3 Die Here sal dan optrek en teen die nasies baklei soos Hy al in die verlede gedoen het.
4 In dié spesifieke tyd sal die Here op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Wanneer dit gebeur, sal die Olyfberg middeldeur skeur. Die een helfte sal noord padgee en die ander helfte suid. Dit sal maak dat daar ’n groot kloof sal wees wat van oos na wes loop.
5 Julle sal deur hierdie kloof in die berg ontsnap en tot so ver as die sykant van die berg kan gaan. Julle sal moet vlug net soos julle vroeër in koning Ussia van Juda se tyd vir die aardbewing moes vlug. Dan sal die Here wat my God is, kom en al die hemelwesens saam met Hom.
6 Daardie dag sal daar nie lig of koue of ryp wees nie.
7 Dit sal ’n snaakse dag wees, want die daglig sal nie ophou nie. Net die Here weet wanneer dit sal wees. Daar sal nie gewone dag of nag wees nie. Al word dit aand, sal dit nog steeds lig bly.
8 In dié tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei. Die een helfte van die water sal in die rigting van die Dooie See loop en die ander helfte na die Middellandse See toe. Die water sal dwarsdeur die winter en die somer aanhou loop.