Sagaria 14:4-10 DB

4 In dié spesifieke tyd sal die Here op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Wanneer dit gebeur, sal die Olyfberg middeldeur skeur. Die een helfte sal noord padgee en die ander helfte suid. Dit sal maak dat daar ’n groot kloof sal wees wat van oos na wes loop.

5 Julle sal deur hierdie kloof in die berg ontsnap en tot so ver as die sykant van die berg kan gaan. Julle sal moet vlug net soos julle vroeër in koning Ussia van Juda se tyd vir die aardbewing moes vlug. Dan sal die Here wat my God is, kom en al die hemelwesens saam met Hom.

6 Daardie dag sal daar nie lig of koue of ryp wees nie.

7 Dit sal ’n snaakse dag wees, want die daglig sal nie ophou nie. Net die Here weet wanneer dit sal wees. Daar sal nie gewone dag of nag wees nie. Al word dit aand, sal dit nog steeds lig bly.

8 In dié tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei. Die een helfte van die water sal in die rigting van die Dooie See loop en die ander helfte na die Middellandse See toe. Die water sal dwarsdeur die winter en die somer aanhou loop.

9 Die Here sal koning wees oor die hele wêreld. Daardie dag sal almal weet dat Hy die enigste God is. Sy Naam sal die enigste Naam wees wat genoem word.

10 Die hele gebied rondom Jerusalem sal oop en uitgestrek lê. Na die noorde toe sal dit lê tot by Geba en na die suide tot so ver as Rimmon. In die middel van hierdie gebied sal Jerusalem hoog uitstaan soos vroeër. Die stad sal lê van die Benjaminingang af tot by die plek waar die ou hek was. Dan verder tot by die Hoekingang en van die Gananeltoring tot by die plek waar die koning se wyn gemaak word.