2 Die Here het vir die aanklaer gesê: “Ek dink niks van wat jy nou sê nie. Ek het Jerusalem vir My gekies. Ek wil niks van jou weet nie! Jesua is onskuldig, hy is soos ’n stuk hout wat uit die vuur geruk is. Hy slaag die toets!”
3 Jesua het met vuil klere aan voor die engel gestaan.
4 Die engel sê toe vir die ander wat voor hom staan: “Trek sy vuil klere uit!” Daarna het die engel vir Jesua gesê: “Ek vergewe jou vir alles wat jy verkeerd gedoen het. Ek gee vir jou splinternuwe klere om aan te trek.”
5 Toe het ek gesê: “Bind asseblief ook vir hom ’n skoon tulband om sy kop!” Hulle het toe ’n skoon tulband om sy kop gebind. Verder het hulle ook vir hom nuwe klere aangetrek terwyl die engel van die Here staan en kyk het.
6 Daarna het die engel van die Here ernstig met Jesua gepraat en gesê:
7 “Die Here wat oor alles en almal regeer, sê: As jy lewe soos Ek wil hê jy moet en presies doen wat Ek vra, sal jy die baas van die tempel in Jerusalem wees. Jy mag dan ook enige tyd in die deel van die tempel kom waar Ek is.
8 “Hoor hier, Jesua, jy wat die hoëpriester is, en ook al die ander priesters wat by jou is, moet besef: mense sal na julle as leiers kyk en moed skep vir die toekoms. Binnekort gaan Ek iemand laat kom wat vir My sal werk. Hy is soos ’n jong tak van ’n boom; die toekomstige koning van Juda wat uit koning Dawid se familie kom.