7 Die perde was sterk en vol energie. Hulle was lus om weg te spring om die patrollies oor die aarde te ry. Die Here het gesê: “Gaan ry kruis en dwars oor die aarde!” Hulle het uitgegaan om die wêreld mooi deur te kyk.
8 Die Here het my geroep en vir my gesê: “Die oorlogswa wat noord gery het, bring my Gees daarnatoe. Ek weet nou dinge sal daar onder beheer wees.”
9 Die Here het my ’n opdrag gegee wat ek moes doen.
10 “Gaan vandag nog na die huis van Josia, die seun van Sefanja. Daar sal jy Geldai, Tobija en Jedaja kry wat nou net uit Babel teruggekom het. Hulle is vroeër teen hulle wil soontoe gevat. Vat die geskenke van silwer en goud wat hulle saamgebring het.
11 Maak dan krone van die silwer en die goud en sit een op Jesua die hoofpriester se kop. Jesua is die seun van Josadak.
12 “Sê dan vir hom: Die Here wat sterker is as alles en almal sê: ’n Man sal na vore kom wat ‘jong tak’ genoem word. Hy kom uit die familie van koning Dawid. Hy sal die tempel van die Here weer bou.
13 Maar hy sal nie net die tempel bou nie, die mense sal hom as ’n koning sien. Hy sal op sy troon sit en die land regeer. ’n Priester sal saam met hom regeer. Hy en die priester sal goed oor die weg kom en in vrede saamwerk.