8 Die Here sê: “Ek sal my land en alles wat aan My behoort, baie goed oppas. Ek sal dit beskerm teen mense wat die land wil inval. Ek sal nie toelaat dat enige vreemde mag weer my volk aanval nie. Ek sal self my oog oor hulle hou en hulle goed oppas.”
9 Wees baie bly, mense van Sion! Skree hard, inwoners van Jerusalem! Julle koning is op pad na julle toe. Hy tree altyd regverdig op en hy is ’n wenner. En tog is hy nederig. Hy ry sommer op ’n donkie.
10 Die Here sê: “Ek sal al die goed wegmaak wat hulle in Israel en in Jerusalem gebruik om mee oorlog te maak. Dit is dinge soos strydwaens, perde en pyle en boë. Ek sal dit alles vernietig. Julle koning sal ook vir die nasies vrede bring. Hy sal van die een see tot die ander see, van die Eufraatrivier tot by die einde van die aarde, koning wees.”
11 Die Here sê verder ook: “Ek was baie ernstig met die ooreenkoms wat Ek met julle gemaak het. En om te bewys hoe sterk hierdie ooreenkoms is, is dit met bloed gesluit. Omdat Ek My in hierdie ooreenkoms laat bind het, sal Ek julle mense vrymaak uit ballingskap. Die inwoners van Juda sal nie langer as gevangenes in ’n vreemde land aangehou word nie.
12 Daar is hoop vir julle wat gevang en uit julle land weggevat is. Kom terug na julle land toe sodat julle veilig kan wees! Ek belowe julle vandag dat Ek julle dubbel soveel sal gee as wat julle vroeër gehad het.
13 Soos ’n soldaat ’n pyl en boog en ’n swaard as wapens in ’n geveg gebruik, so sal Ek met Juda, Israel en Jerusalem maak. Ek sal hulle as my wapens teen die Grieke gebruik.”
14 Die Here sal bokant sy mense gesien word. Sy pyl sal soos ’n weerligstraal uitskiet. Hy sal op die trompet blaas om te wys dat die geveg begin het. Soos ’n stormwind uit die suide val Hy dan die vyand aan.