Luka 15 PWL

1 Die belastinggaarders en sondaars het na Hom toe gekom om na Hom te luister.

2 Die Fariseërs en die leraars van die wet het gekla en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.”

3 Yeshua vertel vir hulle hierdie vergelykende storie:

4 “Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle raak weg, laat nie die nege en negentig in die wildernis staan en gaan soek die een wat weg is totdat hy dit kry nie?

5 Wanneer hy dit kry, sit hy dit met vreugde op sy skouers

6 en wanneer hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat weg was.’

7 Ek sê vir julle dat daar dieselfde vreugde sal wees in die hemel oor een sondaar wat terugkom huis toe, méer as oor nege en negentig onskuldiges wat nie nodig het om huis toe te kom nie.

8 Of watter vrou, wat tien zuzin het; wanneer een zuza wegraak, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek versigtig totdat sy dit kry nie?

9 Wanneer sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees verheug saam met my, want ek het die zuza gekry wat weg was.’

10 So, sê Ek vir julle, is daar vreugde voor die engele van God oor een sondaar wat terugkeer huis toe.”

11 Weer sê Yeshua vir hulle: “’n Sekere man het twee seuns gehad

12 en die jongste seun sê vir hom: ‘My vader, gee vir my die deel van u boedel wat my toekom.’ Hy het sy rykdom tussen hulle verdeel en

13 na ’n paar dae het die jongste seun alles wat na hom toe gekom het bymekaargemaak en weggegaan na ’n ver land en daar sy besittings uitgemors deur spandabelrig te leef.

14 Toe hy alles uitgemors het wat syne was, kom daar ’n swaar hongersnood in daardie land en hy het begin swaarkry.

15 Toe het hy hom by een van die mense van daardie land gaan voeg en dié het hom na sy veld gestuur om varke te versorg.

16 Hy het begeer om sy maag vol te maak met die peule wat die varke eet en niemand het dit vir hom gegee nie.

17 Toe hy tot homself kom, het hy gesê: ‘Hoeveel gehuurde werkers is in die huis van my vader wat ’n oorvloed brood vir hulleself het en hier gaan ek dood van die honger!

18 Ek sal opstaan en na my vader gaan en ek sal vir hom sê: ‘My vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u.

19 Ek is nie meer waardig om u seun genoem te word nie; maak my net soos een van u gehuurde werkers.’

20 Hy het opgestaan en na sy vader gegaan, maar toe hy nog ver weg was, het sy vader hom gesien en omgegee vir hom en gehardloop, hom omhels en gesoen.

21 Sy seun sê vir hom: ‘My vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie langer waardig om u seun genoem te word nie.’

22 Sy vader sê egter vir sy slawe: ‘Bring die beste klere en trek dit vir hom aan, sit ’n ring aan sy hand, skoene aan sy voete

23 en bring die vetgemaakte vee en slag dit en laat ons eet en bly wees,

24 want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword en hy was weg en is gevind.’ Hulle het begin feesvier.

25 Sy oudste seun was in die veld en terwyl hy nader na die huis toe kom, hoor hy baie musiek

26 en hy roep een van die jongmanne en vra wat dit beteken.

27 Dié sê toe vir hom: ‘U broer het gekom en u vader het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom gesond teruggekry het.’

28 Hy het kwaad geword en wou nie ingaan nie. Sy vader gaan toe uit en pleit by hom,

29 maar hy antwoord en sê vir sy vader: ‘Let op, ek dien u so baie jare en ek het nooit u bevele oortree nie en vir my het u nooit ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende bly kon wees nie,

30 maar toe hierdie seun van u kom, wat u besittings verslind het met hoere, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.’

31 Sy vader sê egter vir hom: ‘My seun, jy is altyd by my en alles wat myne is, is joune.

32 Dit was reg van ons om vrolik en bly te wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword en hy was weg en is gevind.’”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24