1 Konings 1 PWL

1 Koning Dawid was oud en ver gevorderd in jare en hulle het hom met klere toegemaak, maar hy kon nie warm word nie.

2 Sy diensknegte sê vir hom: “Laat hulle vir my meester die koning ’n jong maagd soek en laat sy die koning versorg en sy verpleegster word en laat haar in u skoot lê sodat my meester die koning warm kan bly.”

3 Hulle het in die hele grondgebied van Yisra’el ’n mooi meisie gesoek en Avishag, die Shunamiet, gevind en haar na die koning toe gebring.

4 Die meisie was baie mooi en sy was vir die koning ’n verpleegster en het hom bedien, maar die koning het geen gemeenskap met haar gehad nie.

5 Nou, Adoniyah, die seun van Haggit, het homself verhoog en gesê: “Ek sal koning wees!” Hy het vir homself strydwaens en perderuiters voorberei en vyftig man om voor hom uit te hardloop.

6 Sy vader het hom nooit te eniger tyd teëgegaan deur te vra: “Waarom het jy so gemaak?” nie. Hy was ook altyd ’n baie aantreklike man en hy is ná Avshalom gebore.

7 Hy het met Yo’av, die seun van Tz’ruyah, beraadslag, asook met Evyatar, die priester en deur hom te volg het hulle Adoniyah gehelp.

8 Tzadok, die priester, B’nayah, die seun van Y’hoyada, Natan, die profeet, Shim’i, Re’i en die magtige manne van Dawid was nie by Adoniyah nie.

9 Adoniyah het kleinvee, beeste en vetgemaakte vee geslag by die klip van Zogelet wat langs `Ein-Rogel staan en al sy broers, die seuns van die koning en al die manne van Y’hudah, die diensknegte van die koning, genooi,

10 maar vir Natan, die profeet, B’nayah, die magtige manne en vir sy broer Shlomo, het hy nie genooi nie.

11 Toe praat Natan met Bat-Sh’va, die moeder van Shlomo en sê: “Het u nie gehoor dat Adoniyah, die seun van Haggit, koning geword het en dat ons meester Dawid dit nie weet nie?

12 Kom dan nou, laat ek u asseblief raad gee dat u u lewe en die lewe van u seun Shlomo kan red.

13 Gaan dadelik na koning Dawid en sê vir hom: “Het ú nie, my meester die koning, vir u dienares gesweer en gesê: ‘Jou seun Shlomo sal sekerlik koning wees ná my en hy sal op my troon sit,’ nie? Waarom het Adoniyah dan koning geword?

14 Let op, terwyl u nog daar is en met die koning praat, sal ék agter u inkom en u woorde bevestig.”

15 Bat-Sh’va het ingegaan by die koning in die slaapkamer. Nou, die koning was baie oud en Avishag, die Shunamiet, het die koning bedien.

16 Toe het Bat-Sh’va gebuig en op die grond gaan lê voor die koning. Die koning het gesê: “Wat wil jy hê?”

17 Sy antwoord hom: “My meester, ú het by יהוה u God vir u dienares gesweer en gesê: ‘U seun Shlomo sal sekerlik ná my koning wees en hy sal op my troon sit.’

18 Nou, let op, Adoniyah is koning en nou, my meester die koning, u het dit nie geweet nie.

19 Hy het beeste, vetgemaakte vee en kleinvee in oorvloed geoffer en al die seuns van die koning, Evyatar, die priester en Yo’av, die bevelvoerder van die leër, genooi, maar hy het nie vir Shlomo, u dienskneg, genooi nie.

20 Wat ú betref, my meester, die koning, die oë van die hele Yisra’el is op u om vir hulle te vertel wie op die troon van my meester, die koning, ná hom sal sit.

21 Anders sal dit gebeur, sodra my meester die koning by sy vaders neergelê word dat ek en my seun Shlomo as oortreders beskou sal word.”

22 Let op, terwyl sy nog met die koning praat, kom Natan, die profeet, in.

23 Hulle het dit vir die koning vertel en gesê: “Natan, die profeet, is hier.” Toe hy voor die koning kom, het hy voor die koning met sy gesig op die grond gaan lê.

24 Toe sê Natan: “My meester die koning, het ú gesê: ‘Adoniyah sal ná my koning wees en hy sal op my troon sit,’

25 want hy het vandag afgegaan en beeste, vetgemaakte vee en kleinvee in oorvloed geslag en al die seuns van die koning, die bevelvoerders van die leër en vir Evyatar, die priester, genooi en let op, hulle eet en drink voor hom en sê: ‘Mag koning Adoniyah lewe!’

26 Vir my, u dienskneg, Tzadok, die priester, B’nayah, die seun van Y’hoyada en Shlomo, u dienskneg, het hy egter nie genooi nie.

27 Is hierdie saak deur my meester die koning gedoen en u het nie vir u diensknegte gewys wie op die troon van my meester die koning ná hom sal sit nie?”

28 Toe het koning Dawid gesê: “Roep Bat-Sh’va na my toe!” Sy het in die teenwoordigheid van die koning gekom en voor die koning gaan staan.

29 Toe sweer die koning en sê: “Soos יהוה leef wat my uit alle benoudheid verlos het,

30 sekerlik, soos ek vir u by יהוה, die God van Yisra’el, gesweer en gesê het dat u seun Shlomo ná my koning sal wees en dat hy op my troon sal sit in my plek, sal ek sekerlik vandag doen.”

31 Toe het Bat-Sh’va met haar gesig na die grond toe neergebuig en voor die koning neergeval en gesê: “Mag my meester, koning Dawid, vir ewig leef!”

32 Toe het koning Dawid gesê: “Roep vir my Tzadok, die priester, Natan, die profeet en B’nayah, die seun van Y’hoyada.” Hulle het in die koning se teenwoordigheid gekom.

33 Die koning het vir hulle gesê: “Vat die diensknegte van julle meester saam met julle en laat my seun Shlomo op my eie muil ry en bring hom af na Gigon toe.

34 Laat Tzadok, die priester en Natan, die profeet, hom daar as koning oor Yisra’el salf en blaas die ramshoring en sê: ‘Koning Shlomo lewe!’

35 Dan moet julle agter hom aankom en hy moet kom en op my troon sit en koning wees in my plek, want ek het hom aangestel om heerser te wees, oor Yisra’el en Y’hudah.”

36 B’nayah, die seun van Y’hoyada, antwoord die koning en sê: “Dit is waar! Mag יהוה, die God van my meester, die koning, so sê.

37 Soos יהוה met my meester die koning was, mag Hy so met Shlomo wees en sy troon groter maak as die troon van my meester, koning Dawid!”

38 Tzadok, die priester, Natan, die profeet, B’nayah, die seun van Y’hoyada, die persoonlike wagte en die boodskappers, het afgegaan en Shlomo laat ry op die muil van koning Dawid en hom na Gigon gebring.

39 Tzadok, die priester, het toe die horing met olie uit die tent gevat en Shlomo gesalf. Toe het hulle die ramshoring geblaas en die hele volk het gesê: “Koning Shlomo leef!”

40 Al die mense het agter hom aan opgegaan en die mense het op fluite gespeel en hulle verheug met groot blydskap sodat die aarde geskud het van hulle geraas.

41 Adoniyah en al die gaste wat by hom was, het dit gehoor toe hulle net klaar geëet het. Toe Yo’av die geluid van die ramshoring hoor, het hy gesê: “Hoekom is daar so ’n oproerigheid in die stad?”

42 Terwyl hy nog praat, let op, kom Y’honatan, die seun van Evyatar, die priester, daar aan. Toe sê Adoniyah: “Kom in, want jy is ’n dapper man en bring goeie nuus.”

43 Y’honatan antwoord Adoniyah egter en sê: “Nee! Ons meester, koning Dawid, het Shlomo koning gemaak!

44 Die koning het vir Tzadok, die priester, Natan, die profeet, B’nayah, die seun van Y’hoyada, die persoonlike wagte en die boodskappers saam met hom gestuur en hulle het hom op die koning se muil laat ry.

45 Tzadok, die priester en Natan, die profeet, het hom in Gigon as koning gesalf en hulle het daarvandaan met blydskap opgekom sodat die stad in oproer is; dit is die geraas wat julle gehoor het.

46 Buitendien, Shlomo het selfs op die koninklike troon gaan sit.

47 Meer nog, die diensknegte van die koning het gekom om ons meester, koning Dawid, te seën en gesê: ‘Mag u God die naam (karakter en outoriteit) van Shlomo beter maak as u naam (karakter en outoriteit) en sy troon groter maak as u troon!’ Toe het die koning op die bed neergebuig.

48 Die koning het ook so gesê: ‘Geseënd is יהוה, die God van Yisra’el, wat vandag een gegee het om op my troon te sit terwyl my oë dit sien.’”

49 Toe was al die gaste van Adoniyah bevrees en hulle het opgestaan en elkeen sy pad gegaan.

50 Adoniyah was bang vir Shlomo en hy het opgestaan en die horings van die altaar gaan vasgryp.

51 Dit is vir Shlomo vertel en gesê: “Let op, Adoniyah is bang vir koning Shlomo, want let op, hy hou die horings van die altaar vas en sê: ‘Laat koning Shlomo vandag vir my sweer dat hy sy dienskneg nie met die swaard sal doodmaak nie.’”

52 Shlomo het gesê: “As hy ’n waardige man is, sal nie een van sy hare op die grond val nie, maar as boosheid in hom gevind word, sal hy sterf.”

53 Koning Shlomo het gestuur en hulle het hom van die altaar afgebring en hy het gekom en voor koning Shlomo op die grond gaan lê en Shlomo het vir hom gesê: “Gaan na jou huis toe.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22