1 Toe het Regav’am na Sh’khem gegaan, want die hele Yisra’el het na Sh’khem gekom om hom koning te maak.
2 Toe Yarov’am, die seun van N’vat, dit hoor, het hy in Mitzrayim gebly, (want hy was nog in Mitzrayim, waarheen hy van die teenwoordigheid van koning Shlomo af gevlug het.)
3 Toe het hulle gestuur en hom laat roep en Yarov’am en die hele vergadering van Yisra’el het gekom en met Regav’am gepraat en gesê:
4 “U vader het ons juk hard gemaak; daarom, maak die harde diens van u vader ligter en sy swaar juk wat hy op ons gesit het en ons sal u dien.”
5 Toe sê hy vir hulle: “Gaan weg vir drie dae, kom dan terug na my toe.” Die mense het weggegaan.
6 Koning Regav’am het met die oudstes, wat sy vader Shlomo gedien het toe hy nog gelewe het, beraadslaag en hy vra: “Watter advies gee u my om hierdie mense te antwoord?”
7 Toe praat hulle met hom en sê: “As u vandag ’n dienskneg tot hierdie volk sal wees en hulle dien, hulle versoek toestaan en goeie woorde met hulle praat, sal hulle altyd u diensknegte wees.”
8 Hy het egter die advies van die oudstes wat hulle vir hom gegee het, verwerp en met die jongmanne wat saam met hom grootgeword het en hom gedien het, beraadslaag.
9 Hy vra toe vir hulle: “Watter advies gee julle wat ons hierdie mense sal antwoord wat met my gepraat en gesê het: ‘Maak die juk wat u vader op ons gesit het, ligter?’”2 Kro 10:10
10 Die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: “Só moet u hierdie mense antwoord wat met u gepraat en gesê het: ‘U vader het ons juk swaar gemaak, maak u dit nou ligter vir ons,’ u moet hulle antwoord: ‘My pinkie is dikker as my vader se duim.
11 Waar my vader julle belas het met ’n swaar juk, sal ek bysit by julle juk; my vader het julle met swepe gedissiplineer, maar ék sal julle met skerpioene dissiplineer.’”
12 Toe het Yarov’am en al die mense by Regav’am gekom op die derde dag soos die koning aangedui en gesê het: “Kom na my toe terug op die derde dag.”
13 Die koning het die volk hard geantwoord, want hy het die raad wat die oudstes vir hom gegee het, verwerp
14 en met hulle gepraat volgens die raad van die jongmanne en gesê: “My vader het julle juk swaar gemaak, maar ék sal bysit by julle juk; my vader het julle met swepe gedissiplineer, maar ék sal julle met skerpioene dissiplineer.”
15 So het die koning dan nie na die mense geluister nie, want dit was ’n reeks gebeurlikhede vanaf יהוה sodat Hy Sy woord kan vestig wat יהוה deur Agiyah, die Shilohiet, tot Yarov’am, die seun van N’vat, gepraat het.
16 Toe die hele Yisra’el sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die mense die koning geantwoord en gesê: “Watter deel het ons aan Dawid? Ons het geen erfenis aan die seun van Yishai nie! Na julle tente toe, Yisra’el! Kyk nou na jou eie huis, Dawid!” Yisra’el het na hulle tente toe gegaan,
17 maar Regav’am was koning oor die seuns van Yisra’el wat in die stede van Y’hudah gebly het.
18 Toe stuur koning Regav’am vir Adoram, wat oor die dwangarbeid was en die hele Yisra’el het hom gestenig sodat hy dood is. Koning Regav’am het hom gehaas om op sy strydwa te klim om na Yerushalayim te vlug.
19 Só was Yisra’el in rebellie teen die huis van Dawid tot vandag toe.
20 Dit het gebeur toe die hele Yisra’el hoor dat Yarov’am terug was, hulle gestuur en hom na die vergadering geroep en hom koning gemaak het oor die hele Yisra’el. Niemand behalwe die stam van Y’hudah het die huis van Dawid gevolg nie.
21 Toe Regav’am in Yerushalayim gekom het, het hy die hele huis van Y’hudah en die stam van Binyamin bymekaargeroep, een honderd en tagtig duisend manne wat soldate was, om teen die huis van Yisra’el te veg, om die koninkryk tot Regav’am, die seun van Shlomo, te herstel.
22 Die woord van God het egter tot Sh’ma’yah, die man van God, gekom en gesê:
23 “Praat met Regav’am, die seun van Shlomo, koning van Y’hudah en met die hele huis van Y’hudah en Binyamin en die res van die mense en sê:
24 ‘So sê יהוה: Julle mag nie opgaan en teen julle familie, die seuns van Yisra’el, veg nie; gaan elkeen terug na sy huis, want hierdie ding het van My af gekom.’” Hulle het na die woord van יהוה geluister en teruggegaan volgens die woord van יהוה.
25 Toe het Yarov’am Sh’khem gebou op die bergland van Efrayim en daar gebly en van daar af uitgegaan en P’nu’el gebou.
26 Yarov’am het in homself gesê: “Nou sal die koninkryk terugkeer na die huis van Dawid.
27 As hierdie mense opgaan om offers te bring in die huis van יהוה in Yerushalayim, dan sal die verstand, wil en emosie van hierdie mense terugkeer na hulle meester, na Regav’am, koning van Y’hudah en hulle sal my doodmaak en teruggaan na Regav’am, koning van Y’hudah.”
28 Die koning het beraadslaag en twee goue kalwers gemaak en vir hulle gesê: “Dit is te veel vir julle om op te gaan na Yerushalayim; let op julle gode, o Yisra’el, wat julle uit die land van Mitzrayim gebring het!”
29 Hy het een in Beit-El opgerig en die ander in Dan.
30 Hierdie ding het ’n sonde geword, want die mense het gaan aanbid voor die een sover as Dan.
31 Hy het ook huise op hoë plekke gebou en priesters vanuit al die mense gemaak, wat nie uit die seuns van Levi was nie.
32 Yarov’am het ’n fees ingestel in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soos die fees wat in Y’hudah was en op die altaar geklim. Dit het hy in Beit-El gedoen en geoffer tot die kalwers wat hy gemaak het. Hy het ook die priesters vir die hoë plekke wat hy gemaak het, in Beit-El gesit.
33 Toe het hy opgegaan na die altaar wat hy in Beit-El gemaak het, op die vyftiende dag van die agtste maand, in die maand wat hy uit sy eie verstand, wil en emosie uitgedink het en hy het vir die seuns van Yisra’el ’n fees ingestel en opgegaan na die altaar om wierook te brand.