5 Die altaar is ook uitmekaargeskeur en die as is van die altaar afgegooi volgens die teken wat die man van God gegee het deur die woord van יהוה.
6 Die koning sê aan die man van God: “Pleit asseblief van יהוה, jou God en bid vir my dat my hand aan my teruggegee sal word.” Die man van God het van יהוה gepleit en die koning se hand is vir hom herstel en dit het geword soos vroeër.
7 Toe sê die koning vir die man van God: “Kom saam met my huis toe en verfris jouself en ek sal vir jou ’n beloning gee.”
8 Die man van God sê egter vir die koning: “Selfs al gee u my die helfte van u huis, sal ek nie saam met u gaan nie en ook sal ek geen brood eet of water drink in hierdie plek nie,
9 want so het יהוה my beveel deur Sy woord en gesê: ‘Jy mag geen brood eet of water drink of terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.’”
10 Hy het toe met ’n ander pad gegaan en nie teruggekeer met die pad waarmee hy na Beit-El gekom het nie.
11 ’n Ou profeet het in Beit-El gebly en sy seuns het gekom en hom alles vertel wat die man van God dié dag in Beit-El gedoen het; ook die woorde wat hy met die koning gepraat het, het hulle vir hul vader vertel.