6 Hy antwoord haar: “Omdat ek met Navot, die Yizre’eliet, gepraat en vir hom gesê het: ‘Gee vir my jou wingerd vir geld, of anders, as jy wil, sal ek vir jou ’n wingerd in die plek daarvan gee,’ maar hy het gesê: ‘Ek sal nie my wingerd vir u gee nie.”
7 Izevel, sy vrou, sê vir hom: “Heers jy nie nou oor Yisra’el nie? Staan op, eet brood en laat jou hart vrolik wees; ek sal vir jou die wingerd van Navot, die Yizre’eliet, gee.”
8 Sy het briewe in die naam van Ag’av geskryf en hulle met sy seël verseël en die briewe aan die oudstes en die edeles, wat by Navot in sy stad gebly het, gestuur.
9 Sy het in die briewe geskryf en gesê: “Roep ’n vasdag uit en sit Navot aan die hoof van die mense
10 en sit twee manne, deugniete, voor hom en laat hulle teen hom getuig en sê: ‘Jy het God en die koning gevloek!’ Vat hom dan uit en stenig hom tot die dood.”
11 Die manne van sy stad, die oudstes en die edeles wat in sy stad gebly het, maak toe soos Izevel hulle laat weet het, net soos dit geskryf was in die briewe wat sy vir hulle gestuur het.
12 Hulle het ’n vasdag uitgeroep en Navot aan die hoof van die mense laat sit.