18 Shim’i, die seun van Ela, in Binyamin;
19 Gever, die seun van Uri, in die land Gil’ad, die land van Sigon, die koning van die Emoriete en van `Og, die koning van Bashan; hy was die enigste bestuurder in die land.
20 Y’hudah en Yisra’el was so talryk soos die sand wat aan die seestrand in oorvloed is; hulle het geëet en gedrink en hulle verheug.
21 Shlomo het geheers oor al die koninkryke vanaf die Rivier (Eufraat) tot by die land van die F’lishtyne en tot by die grens van Mitzrayim; hulle het belasting gebring en Shlomo gedien al die dae van sy lewe.
22 Shlomo se voorsiening vir een dag was dertig mates (6600 liter) fyn meel en sestig mates (13200 liter) meel;
23 tien vetgemaakte beeste, twintig veldbeeste, ’n honderd stuks kleinvee, behalwe die takbokke, gaselle, reebokke en vetgemaakte pluimvee,
24 want hy het outoriteit gehad oor alles wes van die Rivier, vanaf Tifsag tot by Gazah, oor al die konings wes van die Rivier en hy het vrede gehad aan alle kante rondom hom.Lev 26:5