10 Hy het ook bykomende kamers vas teen die hele huis gebou; elkeen was vyf el hoog en hulle was vas aan die huis met balke van seder.
11 Die woord van יהוה het tot Shlomo gekom en gesê:
12 “Aangaande hierdie huis wat jy besig is om te bou, as jy in My wette loop en My verordeninge uitvoer en al My opdragte hou deur daarin te loop, dan sal Ek My woord uitvoer wat Ek met jou vader Dawid gepraat het.
13 Ek sal tussen die seuns van Yisra’el bly en My volk Yisra’el nie in die steek laat nie.”
14 Shlomo het die huis gebou en dit voltooi.
15 Toe het hy die mure van die huis aan die binnekant gebou met planke van seder; van die vloer van die huis af tot by die plafon het hy dit van binne met hout oordek en die vloer van die huis het hy met planke van sipres oorgetrek.
16 Hy het twintig el aan die agterkant van die huis met planke van seder gebou, van die vloer af tot by die plafon; hy het dit aan die binnekant as ’n binnevertrek gebou, as ’n Mees Afgesonderde plek.