1 Ag’av het sewentig seuns gehad in Shomron. Yehu het aan die heersers van Yizre’el, die oudstes en aan die opvoeders van die seuns van Ag’av briewe geskryf, hulle na Shomron gestuur en gesê:
2 “Nou, wanneer hierdie brief by julle kom, aangesien die seuns van jul meester by julle is, sowel as die strydwaens, die perde, ’n versterkte stad en die wapens by julle is,
3 kies die beste en betroubaarste van die seuns van julle meester en sit hom op die troon van sy vader en veg vir die huis van julle meester.
4 Hulle het egter baie gevrees en gesê: “Let op, die twee konings het nie voor hom standgehou nie; hoe kan ons dan staan?”
5 Die een wat oor die huishouding was, hy wat oor die stad was, die oudstes en die opvoeders het woord aan Yehu gestuur en gesê: “Ons is u diensknegte, alles wat u ons beveel, sal ons doen; ons sal niemand koning maak nie; doen wat goed is in u oë.”
6 Toe het hy vir die tweede keer ’n brief aan hulle geskryf en gesê: “As julle aan my kant is en my stem sal gehoorsaam, vat die koppe van die manne, die seuns van julle meester en kom môre omtrent hierdie tyd na my toe in Yizre’el.” Die koning se seuns, sewentig man, was by die groot manne van die stad wat hulle grootgemaak het.