8 Y’hoyakhin was agttien jaar oud toe hy koning geword het en hy het vir drie maande in Yerushalayim regeer en sy moeder se naam was N’gushta, die dogter van Elnatan, van Yerushalayim.
9 Hy het boos gedoen in die oë van יהוה, volgens alles wat sy vader gedoen het.
10 In dié tyd het die diensknegte van N’vukhadnetzar, koning van Bavel, na Yerushalayim opgegaan en die stad is beleër.
11 N’vukhadnetzar, koning van Bavel, het by die stad gekom terwyl sy diensknegte dit beleër het.
12 Y’hoyakhin, die koning van Y’hudah, het uitgegaan na die koning van Bavel, hy, sy moeder, sy dienaars, sy bevelvoerders en sy amptenare en die koning van Bavel het hom gevange geneem in die agtste jaar van sy regering.
13 Hy het al die skatte van die huis van יהוה en die skatte van die huis van die koning daarvandaan uitgedra en al die goud van die voorwerpe afgesny wat Shlomo, koning van Yisra’el, gemaak het in die tempel van יהוה, net soos יהוה gesê het.
14 Toe het hy die hele Yerushalayim, al die bevelvoerders, al die dapper magtige manne, tien duisend ballinge en al die vakmanne en die slotmakers weggevoer; niemand het oorgebly nie, behalwe die armste mense van die land.