1 Elisha het met die vrou gepraat wie se seun hy lewendig gemaak het en gesê: “Staan op en gaan saam met jou huisgesin en bly as vreemdeling waar jy kan bly, want יהוה het ’n hongersnood uitgeroep en dit sal oor die land kom vir sewe jaar.
2 Die vrou het opgestaan en gedoen volgens die woord van die man van God en sy het met haar huisgesin gegaan en as vreemdeling vir sewe jaar lank in die land van die F’lishtyne gebly.
3 Aan die einde van sewe jaar het die vrou uit die land van die F’lishtyne teruggekom en uitgegaan om ’n beroep op die koning te doen vir haar huis en haar grond.
4 Die koning het met Geigazi, die dienskneg van die man van God, gepraat en gesê: “Vertel my asseblief al die groot dinge wat Elisha gedoen het.”
5 Terwyl hy die koning vertel hoe hy die een wat dood was lewendig gemaak het, let op, appelleer die vrou wie se seun hy lewendig gemaak het, tot die koning vir haar huis en haar grond. Geigazi sê: “My meester, o koning, hierdie is die vrou en hierdie is haar seun, wat Elisha lewendig gemaak het.”
6 Toe die koning die vrou vra, het sy hom vertel. Toe stel die koning vir haar ’n sekere amptenaar aan en sê: “Herstel alles wat aan haar behoort en ook die hele opbrengs van die grond, van die dag af dat sy die land verlaat het, tot nou toe.”
7 Elisha het na Dammesek gekom. Ben-Hadad, die koning van Aram, was siek en dit is vir hom gesê: “Die man van God het hierheen gekom.”