11 Yehu het uitgegaan na die diensknegte van sy meester en een sê vir hom: “Is alles goed? Waarom het hierdie kranksinnige na jou toe gekom?” Hy antwoord hulle: “Julle ken die man en sy gepraat.”
12 Hulle sê: “Dit is ’n leuen! Vertel ons nou.” Hy antwoord: “So en so het hy vir my gesê: ‘So sê יהוה: Ek het jou as koning oor Yisra’el gesalf.’”
13 Toe vat hulle gou elkeen sy kleed en lê dit onder hom op die kaal trappe neer en blaas op die ramshoring en sê: “Yehu is koning!”
14 Yehu, die seun van Y’hoshafat, die seun van Nimshi, het saamgesweer teen Y’horam. Y’horam en die hele Yisra’el was besig om Ramot-Gil’ad te verdedig teen Haza’el, koning van Aram,
15 maar koning Y’horam het teruggekeer na Yizre’el om genees te word van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het in die geveg teen Haza’el, koning van Aram. Yehu het gesê: “As julle saamstem, laat niemand ontsnap of uit die stad uitgaan om dit in Yizre’el te gaan vertel nie.”
16 Toe ry Yehu op ’n strydwa en gaan na Yizre’el, want Y’horam het daar gelê. Agazyah, koning van Y’hudah, het afgekom om Y’horam te sien.
17 Die wag het op die toring in Yizre’el gestaan en die geselskap van Yehu gesien soos hy aankom en gesê: “Ek sien ’n geselskap.” Y’horam sê: “Vat ’n ruiter en stuur hulle tegemoet en laat hom vra: ‘Is dit vrede?’”