1 Op daardie dag, toe die boekrol van die wet van Moshe ten aanhore van die volk voorgelees is, is daarin gevind dat daar geskryf is dat die `Ammoniet en die Mo’aviet vir ewigheid nooit die vergadering van God mag inkom nie
2 omdat hulle nie die seuns van Yisra’el met brood en water ontmoet het nie, maar vir Bil’am gehuur het om hulle te vervloek, maar ons God het sy vloeke in seëninge verander.
3 Toe hulle die woorde van die wet hoor, het hulle al die gemengde menigte uit Yisra’el afgesonder.
4 Voor dit het Elyashiv, die priester, gekom en vir Toviyah ’n groot vertrek gebou,
5 waar hulle vroeër die graanoffers, die wierook en die houers wat die tiendes graan bevat, die wyn en olie, wat beveel was om aan die Leviete, die sangers en die poortwagters gegee te word en die offers vir die priesters, gesit het.
6 Terwyl hierdie dinge gebeur het, was ek nie in Yerushalayim nie, want in die twee en dertigste jaar van Artag’shashtra, koning van Bavel, het ek na die koning gegaan en ná sekere dae het ek toestemming van die koning gevra
7 en na Yerushalayim gekom en die boosheid gehoor wat Elyashiv gedoen het, deur vir Toviyah ’n kamer in die hof van die huis van God in te rig.
8 Dit het my uitermate ontstel; ek het Toviyah se huisraad dus op die straat uitgegooi, buite die hof.
9 Toe het ek beveel en hulle het die vertrek gereinig en ek het die houers van die huis van God, die graanoffer en die wierook daarin teruggebring.
10 Ek het ook gehoor dat die Leviete se deel nie aan hulle gegee is nie en dat die Leviete, die sangers en die wat die dienswerk verrig, elkeen na sy grond toe gevlug het.
11 Toe het ek met die leiers getwis en gesê: “Waarom is die huis van God verwaarloos?” Ek het hulle bymekaar laat kom en hulle op hulle plek gesit.
12 Toe het al die Y’hudahiete die tiendes van graan, wyn en olie na die stoorkamers gebring.
13 Ek het Shelemyah, die priester, Tzadok, die skrywer en P’dayah, uit die Leviete, oor die skatkamers aangestel en saam met hulle: Hanan, die seun van Zakur, die seun van Mattanyah omdat hulle getrou geag is en hulle is deur die lot verkies om leiers te wees oor hulle broers.
14 Onthou my, my God, aangaande hierdie en moenie my goeie dade wat ek vir die huis van my God en sy instellings gedoen het, uitwis nie.
15 In daardie dae het ek in Y’hudah hoofpaaie vol verkeer gesien op die Shabbat en mense wat donkies met vragte gelaai bring, asook vragte van wyn, druiwe, vye en allerhande vragte goed wat hulle op die Shabbat in Yerushalayim inbring. Ek het teen hulle getuig dat hulle nie voorsiening mag verkoop nie
16 en ook nie vis mag bring of aan die seuns van Y’hudah of in Yerushalayim op die Shabbat mag verkoop nie.
17 Ek het met die leiers van Y’hudah geargumenteer en vir hulle gesê: “Waarom doen julle hierdie bose ding en onteer die Shabbatdag?
18 Julle vaders het net so gehandel en God het al hierdie ongeluk op ons en hierdie stad gebring, tog bring julle meer toorn en woede op Yisra’el deur die Shabbat te onteer!”
19 Wanneer die poorte van Yerushalayim voor die Shabbat oop was, het ek beveel dat die poorte gesluit moes word en beveel dat hulle nie oopgemaak sal word tot ná die Shabbat nie. Ek het sommige van my diensknegte by die poort geplaas sodat daar geen vrag op die Shabbat ingebring sal word nie.
20 Die handelaars en die verkopers van allerhande soorte handelsware, het een of twee keer buite Yerushalayim geslaap.
21 Toe het ek teen hulle getuig en vir hulle gesê: “Waarom kom julle nie in by die poort in die muur terwyl die son nog hoog is nie? As julle weier om hierdie opdrag uit te voer sal ek julle straf.” Van daardie dag af aan het hulle nie meer op die Shabbat ingekom nie.
22 Ek het aan die Leviete opdrag gegee om hulleself te reinig en dat die wagte en die poortwagters moet kom om die poorte op te pas om die Shabbat af te sonder. O my God, onthou my ook hieroor en spaar my as gevolg van die oorvloed van U onverdiende guns.
23 In dié dae het ek ook Y’hudahiete gesien wat vroue van Ashdod, `Ammon en Mo’av getrou het
24 en hulle seuns het half in die taal van Ashdod gepraat en in die ander helfte kon hulle nie verstaanbaar in die taal van Y’hudah praat nie, maar volgens die taal van elke volk.
25 Ek het met hulle geargumenteer en hulle vervloek en sommige van hulle geslaan en hulle hare uitgepluk en ander by God laat sweer en gesê: “Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee en julle mag nie van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself vat nie!2 Kon 23:13
26 Shlomo, die koning van Yisra’el, het deur hierdie dinge gesondig. Tog was daar onder baie nasies nie ’n koning soos hy nie, waarvoor sy God lief was en God het hom koning oor die hele Yisra’el gemaak. Nogtans het vreemde vroue selfs vir hom laat sondig
27 en dit is aan julle bekendgemaak en tog het julle hierdie groot boosheid gedoen om te oortree teen ons God deur vreemde vroue te trou.”
28 Een van die seuns van Yoyada, die seun van Elyashiv, die hoofpriester, was ’n skoonseun van Sanvallat, die Horoniet; daarom het ek hom van my af weggejaag.
29 Onthou my, o my God, aangaande hulle wat oorgebly het van die priesterdom en die verbond van die priesters en die Leviete.
30 So het ek hulle gereinig van al die ander nasies en hulle in hulle dienswerk aangestel, beide die priesters en die Leviete, elkeen in sy werk,
31 asook om die geskenk offers en die afgesonderde dinge in hulle vasgestelde tye te bring en vir die feeste en vir die eerstevrugte. Onthou my, o my God, ten goede!