12 Nou het Yiftag boodskappers na die koning van die seuns van `Ammon gestuur om te vra: “Wat is tussen u en my dat u na my toe kom om teen my land te veg?”
13 Die koning van die seuns van `Ammon sê vir Yiftag se boodskappers: “Omdat Yisra’el my land weggevat het toe hulle opgekom het vanaf Mitzrayim, vanaf die Arnon sover as tot by die Yabbok en tot by die Yarden, gee hulle nou in vrede terug.”
14 Yiftag het egter weer boodskappers na die koning van die seuns van `Ammon gestuur
15 en vir hom gesê: “So sê Yiftag: Yisra’el het nie die land van Mo’av of die land van die seuns van `Ammon gevat nie,
16 want Yisra’el het, toe hy uit Mitzrayim opgetrek het, deur die wildernis gegaan tot by die Rooisee en by Kadesh gekom.
17 Toe het Yisra’el boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: ‘Laat my asseblief deur u land trek,’ maar die koning van Edom wou nie luister nie en hulle het ook na die koning van Mo’av gestuur, maar hy wou nie instem nie; daarom het Yisra’el in Kadesh gebly.
18 Toe het hulle deur die wildernis, om die land van Edom en die land van Mo’av gegaan en gekom aan die oostekant van die land van Mo’av en hulle het oorkant die Arnon gekamp, maar hulle het nie in die gebied van Mo’av ingegaan nie, want die Arnon is die grens van Mo’av.