1 Die seuns van Yisra’el het weer boos gedoen in die oë van יהוה sodat יהוה hulle oorgegee het in die hand van die F’lishtyne vir veertig jaar lank.
2 Daar was ’n sekere man van Tzor’ah, van die familie van die Daniete, met die naam van Manoag en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie.
3 Toe het die engel van יהוה aan die vrou verskyn en vir haar gesê: “Let op, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun.
4 Nou, daarom, wees versigtig om nie wyn of sterk drank te drink nie en niks wat onrein is te eet nie,
5 want let op, jy sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun en geen skeermes mag op sy kop kom nie, want die seun sal van die baarmoeder af ’n Natzir tot God wees en hy sal begin om Yisra’el te bevry uit die hand van die F’lishtyne.”
6 Toe het die vrou gekom en haar man vertel en gesê: “’n Man van God het na my toe gekom en sy voorkoms was soos die voorkoms van die engel van God, baie ontsagwekkend en ek het hom nie gevra van waar hy was nie en hy het my ook nie sy naam vertel nie,
7 maar hy het vir my gesê: ‘Let op, jy sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun en jy moet nou geen wyn of sterk drank drink of iets wat onrein is eet nie, want die seun sal ’n Natzir tot God wees van die baarmoeder af tot op die dag van sy dood.”
8 Toe het Manoag by יהוה gepleit en gesê: “Ag, יהוה, laat die man van יהוה wat U gestuur het, asseblief nog ’n keer na ons toe kom dat hy ons kan leer hoe ons moet maak met die seun wat gebore sal word.”
9 God het geluister na die stem van Manoag sodat die engel van God nog ’n keer na die vrou toe gekom het terwyl sy in die veld sit en Manoag, haar man, was nie by haar nie.
10 Die vrou het haastig gehardloop en haar man vertel: “Let op, die man het aan my verskyn wat die ander dag na my toe gekom het.”
11 Toe staan Manoag op en volg sy vrou en toe hy by die man kom, vra hy: “Is u die man wat met dié vrou gepraat het?” Hy sê: “Ja.”
12 Manoag het gevra: “As u woorde waar word, wat moet die leefwyse en die beroep van die seun wees?”
13 Die engel van יהוה sê vir Manoag: “Laat die vrou aandag gee aan alles wat ek gesê het.
14 Sy mag niks eet wat van die wingerdstok afkomstig is nie, of enige wyn of sterk drank drink en niks eet wat onrein is nie; alles wat ek haar beveel het, moet sy doen.”
15 Toe sê Manoag vir die engel van יהוה: “Laat ons U tog ophou dat ons ’n bokkie vir u kan voorberei.”
16 Die engel van יהוה antwoord Manoag: “Al hou jy my op, sal ek nie van jou kos eet nie, maar as jy ’n brandoffer voorberei, offer dit dan aan יהוה,” want Manoag het nie geweet dat dit die engel van יהוה was nie.
17 Manoag vra vir die engel van יהוה: “Wat is u naam (karakter en outoriteit) sodat ons u kan vereer wanneer u woord waar word?”
18 Die engel van יהוה sê egter vir hom: “Waarom vra jy my naam terwyl dit wonderbaarlik is.”
19 Manoag vat die jong bokkie saam met die graanoffer en offer dit op die rots aan יהוה terwyl die engel יהוה loof voor die oë van Manoag en sy vrou,
20 want dit het gebeur toe die vlam vanaf die altaar opstyg na die hemel toe dat die engel van יהוה in die vlam van die altaar opgegaan het. Toe Manoag en sy vrou dit gesien het, het hulle op hul gesigte op die grond neergeval.
21 Die engel van יהוה het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie. Toe het Manoag geweet dat hy die engel van יהוה was.
22 Manoag sê toe vir sy vrou: “Ons sal sekerlik sterf, want ons het God gesien.”
23 Sy vrou sê egter vir hom: “As יהוה begeer het om ons te laat sterf, sou Hy nie uit ons hand ’n brandoffer en ’n graanoffer aanvaar het nie en ook nie vir ons al hierdie dinge laat sien het nie, asook nie al hierdie dinge in hierdie tyd laat hoor het nie.
24 Toe het die vrou geboorte gegee aan ’n seun en hom Shimshon genoem en die kind het opgegroei en יהוה het hom geseën.
25 Die Gees van יהוה het begin om hom op te wek in Mahaneh-Dan, tussen Tzor’ah en Eshta’ol.