1 Toe sê die manne van Efrayim vir hom: “Wat is dit wat u ons aangedoen het dat u ons nie geroep het toe u teen Midyan gaan veg het nie?” Hulle het heftig met hom baklei,
2 maar hy sê vir hulle: “Wat het ek nou gedoen in vergelyking met julle? Is die na-oes van Efrayim nie beter as die wynoes van Avi’ezer nie?
3 God het die leiers van Midyan, `Orev en Ze’ev, in julle hand gegee en wat kon ek doen in vergelyking met julle?” Toe bedaar hulle woede teenoor hom toe hy dit gesê het.
4 Toe het Gid’on by die Yarden gekom, hy en die drie honderd man wat by hom was en oorgetrek, moeg en tog besig om te agtervolg.
5 Hy sê vir die manne van Sukkot: “Gee asseblief brood vir die manne wat my volg, want hulle is moeg en ek is besig om Zevag en Tzalmuna, die konings van Midyan, te agtervolg.
6 Die leiers van Sukkot sê: “Is die hande van Zevag en Tzalmuna reeds in u hande dat ons aan u leër brood moet gee?”
7 Gid’on het gesê: “Goed, wanneer יהוה vir Zevag en Tzalmuna in my hand gee, dan sal ek julle liggame met woestyndorings en distels slaan.”
8 Hy het daarvandaan opgegaan na P’nu’el en dieselfde vir hulle gesê en die manne van P’nu’el het hom geantwoord net soos die manne van Sukkot geantwoord het.
9 Hy het ook met die mense van P’nu’el gepraat en gesê: “As ek veilig terugkom, sal ek hierdie toring afbreek.”
10 Nou, Zevag en Tzalmuna was in Karkor en hulle leërs by hulle, omtrent vyftien duisend man, al wat oor was van die hele leër van die seuns van die Ooste, want die gesneuweldes was honderd en twintig duisend swaard soldate.
11 Gid’on het opgegaan met die pad van die wat in tente bly, oos van Novag en Yogbehah en die kamp aangeval toe die kamp dit nie verwag het nie.
12 Toe Zevag en Tzalmuna vlug, het hy hulle agternagejaag en die twee konings van Midyan, Zevag en Tzalmuna, gevang en die hele leër uitmekaargejaag.
13 Toe het Gid’on, die seun van Yo’ash, by die opdraand na Heres teruggekom van die geveg af,
14 ’n jongman vanaf Sukkot gevang en hom uitgevra. Toe skryf die jongman vir hom die prinse van Sukkot en sy oudstes se name neer, sewe en sewentig man.
15 Hy kom by die mense van Sukkot en sê: “Let op, hier is Zevag en Tzalmuna oor wie julle my gespot het deur te sê: ‘Is die hande van Zevag en Tzalmuna reeds in u hand dat ons brood moet gee vir u manne wat moeg is.’”
16 Hy het die oudstes van die stad oor die woestyndorings en die distels getrek en so die manne van Sukkot gedissiplineer.
17 Hy het die toring van P’nu’el afgebreek en die manne van die stad doodgemaak.
18 Toe vra hy vir Zevag en Tzalmuna: “Watter manne was dit wat julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle antwoord: “Hulle was soos u, elkeen het gelyk soos die seun van ’n koning.”
19 Hy het gesê: “Dit was my broers, die seuns van my moeder. So waar as יהוה leef, as julle hulle net laat leef het, sou ek julle nie doodgemaak het nie.”
20 Hy sê toe vir Yeter, sy eersgeborene: “Staan op, maak hulle dood!” Die jongman het egter nie sy swaard uitgetrek nie omdat hy bang was, want hy was nog ’n seun.
21 Toe sê Zevag en Tzalmuna: “Staan u self op en val op ons, want soos die man is, so is sy krag.” Gid’on het toe opgestaan en Zevag en Tzalmuna doodgemaak en die maanornamente, wat aan die nekke van hulle kamele was, gevat.
22 Toe sê die manne van Yisra’el vir Gid’on: “Heers oor ons, u sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons bevry uit die hand van Midyan.”
23 Gid’on sê egter vir hulle: “Ek sal nie oor julle heers nie en my seun sal ook nie oor julle heers nie; יהוה sal oor julle heers.”
24 Tog het Gid’on vir hulle gesê: “Ek wil van julle versoek dat elkeen van julle vir my ’n oorring gee uit sy buit!” (Want hulle het goue oorringe gehad omdat hulle Yishma’eliete was.)
25 Hulle het gesê: “Ons sal dit sekerlik gee.” Hulle het toe ’n mantel uitgesprei en elkeen het ’n oorring van sy buit daarop gegooi.
26 Die gewig van die goue oorringe wat hy gevra het, was een duisend sewe honderd sikkels goud, behalwe die maanornamente, die hangertjies en purper klere wat die konings van Midyan gedra het en behalwe die nekbande wat aan die nekke van hulle kamele was.
27 Gid’on het ’n skouerkleed daarvan gemaak en dit in sy stad, `Ofrah, gesit en die hele Yisra’el het agter dit aan hoereer sodat dit vir Gid’on en sy huis ’n valstrik geword het.
28 So is Midyan onderwerp voor die seuns van Yisra’el en hulle het nie weer hulle koppe opgetel nie. Die land was onversteurd in die dae van Gid’on vir veertig jaar lank.
29 Toe het Yeruba’al, die seun van Yo’ash, gegaan en in sy huis gaan bly.
30 Gid’on het sewentig seuns gehad wat sy direkte nageslag was, want hy het baie vroue gehad.
31 Sy byvrou wat in Sh’khem was, het ook vir hom geboorte gegee aan ’n seun en hy het hom die naam Avimelekh gegee.
32 Gid’on, die seun van Yo’ash, het gesterf op ’n gevorderde ouderdom en is begrawe in die graf van sy vader Yo’ash, in `Ofrah van die Avi’ezriete.
33 Dit het gebeur toe Gid’on dood is dat die seuns van Yisra’el weer agter die Ba’als aan hoereer en Ba’al-B’rit hulle god gemaak het.
34 Dus het die seuns van Yisra’el nie יהוה, hulle God, onthou, wat hulle bevry het uit die hand van al hul vyande, aan elke kant, nie;
35 hulle het ook geen omgee bewys aan die huis van Yeruba’al, (dit is Gid’on), vir al die goed wat hy aan Yisra’el gedoen het nie.