25 Binyamin het uit Giv’ah op die tweede dag teen hulle uitgegaan en van die seuns van Yisra’el nog agttien duisend man wat almal die swaard uittrek, teen die grond geslaan.
26 Toe het al die seuns van Yisra’el en die hele volk opgegaan na Beit-El en gehuil; daar het hulle gebly voor die Teenwoordigheid van יהוה en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en vredesoffers voor die Teenwoordigheid van יהוה geoffer.
27 Die seuns van Yisra’el het יהוה geraadpleeg (want die ark van die verbond van God was in dié dae daar,
28 en Pingas, die seun van El’azar, die seun van Aharon, het in dié dae voor dit gestaan) en gesê: “Moet ek weereens uitgaan in geveg teen die seuns van my broer, Binyamin, of moet ek ophou?” יהוה sê: “Gaan op, want môre sal Ek hulle in jou hand gee.”
29 Yisra’el het rondom Giv’ah manne in hinderlaag opgestel.
30 Die seuns van Yisra’el het op die derde dag teen die seuns van Binyamin opgegaan en hulle teen Giv’ah opgestel soos die vorige kere.
31 Die seuns van Binyamin het uitgegaan teen die manne en is weggelok van die stad af en het soos die vorige kere begin om sommige van die manne op die grootpaaie, waarvan die een opgaan na Beit-El en die ander na Giv’ah en in die veld te slaan en te dood; omtrent dertig man van Yisra’el.