10 Die Gees van יהוה het op hom gekom en hy het Yisra’el gerig. Wanneer hy uitgegaan het om oorlog te maak, het יהוה Kushan-Rish’atayim, die koning van Aram-Naharayim, in sy hand gegee sodat hy geseëvier het oor Kushan-Rish’atayim.
11 Toe het die land rus gehad vir veertig jaar lank en `Otni’el, die seun van K’naz, het gesterf.
12 Nou het die seuns van Yisra’el weer boos gedoen in die oë van יהוה. יהוה het `Eglon, die koning van Mo’av, versterk teen Yisra’el omdat hulle boosheid gedoen het in die oë van יהוה.
13 Hy het by homself die seuns van `Ammon en `Amalek bymekaar gemaak en hy het gegaan en Yisra’el verslaan en hulle het die Palmstad in besit geneem.
14 Die seuns van Yisra’el het `Eglon, koning van Mo’av, agttien jaar lank gedien,
15 maar toe die seuns van Yisra’el uitroep na יהוה, het יהוה vir hulle ’n bevryder opgewek: Ehud, die seun van Gera, die Binyaminiet, ’n linkshandige man en die seuns van Yisra’el het deur hom ’n bydrae aan `Eglon, koning van Mo’av gestuur.
16 Ehud het vir homself ’n swaard gemaak, aan twee kante skerp, een el lank en dit onder sy klere aan sy regterheup vasgebind.