18 Gaan asseblief nie hiervandaan weg voordat ek by U kom en my offer uitbring en voor U neersit nie.” Hy sê: “Ek sal bly totdat jy terugkom.”
19 Toe het Gid’on ingegaan en ’n jong bokkie en ongesuurde brood, van ’n efa meel, voorberei; hy het die vleis in ’n mandjie en die sous in ’n pot gesit en hy het dit na Hom toe uitgebring onder die eikeboom en dit aangebied.
20 Die engel van God het vir hom gesê: “Vat die vleis en die ongesuurde brood en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous uit.” Hy het so gedoen.
21 Toe steek die engel van יהוה die punt van die staf, wat in Sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde brood aan en vuur spring op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde brood. Toe het die engel van יהוה verdwyn voor sy oë.
22 Toe Gid’on sien dat Hy die engel van יהוה was, sê hy: “Helaas, Meester יהוה, want nou het ek die engel van יהוה gesien van gesig tot gesig!”
23 יהוה sê vir hom: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir jou! Moenie vrees nie! Jy sal nie sterf nie.”
24 Toe bou Gid’on daar ’n altaar vir יהוה en noem dit: “יהוה is (Shalom) Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid!” Dit is vandag nog daar by `Ofrah van die Avi’ezriete.