11 Ek het vir hulle My instellings gegee en hulle ingelig oor My wette, waarby, as die mens hulle gehoorsaam, hy sal leef.Yes 56:2-6
12 Ek het ook vir hulle My Shabbatte gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle sodat hulle kan weet dat Ek יהוה is wat hulle afsonder,
13 maar die huis van Yisra’el het teen My rebelleer in die wildernis. Hulle het nie in My instellings geloop nie en hulle het My wette verwerp, waardeur, as ’n mens hulle doen, hy sal leef en My Shabbatte het hulle grootliks onteer. Toe het Ek vas besluit om My toorn in die wildernis oor hulle uit te giet om hulle uit te wis.
14 Ek het egter opgetree ter wille van My Naam sodat dit nie onteer sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgebring het nie.
15 Ek het in die wildernis ook tot hulle gesweer dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek vir hulle gegee het, wat vloei met melk en heuning, wat die lof en eer van al die lande is, nie
16 omdat hulle My wette verwerp het en nie in My instellings geloop het nie; hulle het selfs My Shabbatte onteer, want hulle verstand, wil en emosie het aanhoudend agter hul afgode aangeloop.
17 Nogtans het My oog hulle gespaar eerder as om hulle te vernietig en Ek het nie hulle uitwissing in die wildernis veroorsaak nie.