3 en sê: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek is teen jou, o Gog, hoofprins van Meshekh en Tuval!
4 Ek sal jou omdraai en hake in jou kakebene sit, jou en jou hele leër, perde en ruiters, almal wonderlik toegerus, ’n groot menigte met die groot en die klein skild, wat almal die swaard hanteer, sal Ek uitbring;
5 Paras, Kush en Put saam met hulle, almal met skild en helm;
6 Gomer met al sy troepe, Beit-Togarmah, vanaf die uithoeke van die noorde met al sy troepe; baie volke saam met jou.
7 Wees gereed en berei jouself voor, jy en al jou menigtes wat by jou vergader het en wees vir hulle ’n wag.
8 Ná baie dae sal jy geroep word; in die laaste jare sal jy in ’n land inkom wat van die swaard herstel het, wat versamel is uit baie nasies na die berge van Yisra’el wat voortdurende puinhope was, maar sy mense is vanuit die nasies gebring en hulle bly almal in veiligheid.
9 Jy sal opgaan, jy sal kom soos ’n storm; jy sal wees soos ’n wolk wat die land oordek, jy, al jou troepe en baie volke saam met jou.”