13 Langs die grens van die priesters moet die Leviete vyf en twintig duisend el in lengte en tien duisend in breedte kry. Die hele lengte moet vyf en twintig duisend wees en die breedte tien duisend.
14 Meer nog, hulle mag niks daarvan verkoop of verruil nie, of hierdie beste van die land vervreem nie, want dit is afgesonderd tot יהוה.
15 Die wat oorbly, vyf duisend in die breedte en vyf en twintig duisend in die lengte, sal wees vir algemene gebruik van die stad, vir blyplek en oop spasies en die stad moet in die middel daarvan wees.
16 Hierdie is sy afmetings: die noordekant, vier duisend vyf honderd el; die suidekant, vier duisend vyf honderd el; die oostekant, vier duisend vyf honderd el en die westekant, vier duisend vyf honderd el.
17 Die stad moet oop areas hê: teen die noorde, twee honderd en vyftig el; teen die suide, twee honderd en vyftig el; teen die ooste, twee honderd en vyftig el en teen die weste, twee honderd en vyftig el.
18 Die orige lengte, langs die afgesonderde toedeling moet tien duisend el teen die ooste en tien duisend teen die weste wees; dit moet langs die afgesonderde toedeling wees. Sy opbrengs sal kos wees vir die werkers van die stad.
19 Die werkers van die stad, vanuit al die stamme van Yisra’el, moet dit bewerk.