1 “Aan die einde van elke sewende jaar moet jy skuld afskryf.
2 Dit moet so gedoen word: elkeen aan wie 'n mede-Israeliet iets skuld, moet dit vir hom afskryf. 'n Skuldeiser mag nie sy mede-Israeliet, sy broer, dwing om hom te betaal nie, want dit is die jaar waarin die Here afskrywing van skuld beveel.
3 Jy mag wel 'n nie-Israeliet dwing om sy skuld te betaal, maar as 'n mede-Israeliet jou iets skuld, moet jy dit vir hom afskryf.
4-5 As jy maar net luister na die Here jou God en gehoorsaam is aan al hierdie gebooie wat ek jou vandag gee en daarvolgens lewe, sal daar nie 'n arme onder jou wees nie, want die Here sal jou baie voorspoedig maak in die land wat Hy jou gee om as jou eie te besit.
6 Die Here jou God sal jou voorspoedig maak soos Hy beloof het, en jy sal aan baie nasies kan uitleen sonder dat jy self hoef te leen. Jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.
7 “As daar in een van die dorpe in die land wat die Here jou God aan jou gee, 'n arme is, 'n mede-Israeliet, moet jy nie hard en suinig wees teenoor so 'n broer van jou wat arm is nie.
8 Wees vrygewig teenoor hom en leen hom wat hy nodig het.
9 Moenie sondige gedagtes herberg en dink dit is nie goed om jou broer wat arm is te help nie omdat die sewende jaar, die jaar van afskrywing, op hande is nie. Hy mag hom teen jou op die Here beroep, en jy sal skuldig staan.
10 Gee vryelik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak.
11 Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliet wat in nood is en arm is.”
12 “Wanneer 'n mede-Israeliet, 'n Hebreër soos jy, 'n man of 'n vrou, aan jou verkoop word, en hy werk ses jaar vir jou, moet jy hom in die sewende jaar vrylaat.
13 Maar wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie.
14 Gee hom 'n behoorlike deel van jou kleinvee, van die graan op jou dorsvloer en van jou parskuip. Van alles waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het, moet jy vir hom gee.
15 Jy moet onthou jy was self 'n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry. Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee.
16 “Maar as dit sou gebeur dat jou slaaf vir jou sê: ‘Ek wil nie van u af weggaan nie, want ek het u en u familie lief,’ omdat hy dit goed by jou het,
17 moet jy 'n els vat en dit deur sy oor steek teen die deur. Dan is hy vir altyd jou slaaf. Met 'n slavin moet jy dieselfde doen.
18 Moenie dink 'n ramp het jou getref as jy jou slaaf vrylaat nie, want in die ses jaar het hy jou dubbel die loon van 'n huurling gespaar. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen.”
19 “Jy moet elke manlike eersteling wat daar onder jou grootvee en jou kleinvee gebore word, aan die Here jou God wy. Jy mag nie die eersteling van jou grootvee laat werk nie, en die eersteling van jou kleinvee mag jy nie skeer nie.
20 Jy en jou familie moet dit elke jaar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy gekies het.
21 Maar as die eersteling 'n liggaamsgebrek het, as hy lam of blind is of enige ander liggaamsgebrek het, mag jy hom nie as offer vir die Here jou God bring nie.
22 Jy moet dit dan in jou woonplek eet en enigiemand, rein of onrein, mag daarvan eet asof dit 'n ribbok of 'n takbok is.
23 Maar jy mag nie die bloed daarvan eet nie; gooi dit op die grond uit asof dit water is.”